top of page

Word heel in 2023 - leef met nuwe ritmes en word fiks vir die lewe


Een van die minder lekker ervarings na ‘n lang vakansie is die konfrontasie met ‘n skaal. Die geil leefstyl van die vakansie word gekwantifiseer in kilogramme. Die lesing oortuig ons dikwels om ‘n paar leefstyl-besluite neem. Ons besluit ons gaan gesonder lewe, reg eet, meer oefen. Dis ook die tyd van die jaar wanneer die meeste mense (vir die eerste keer of by herhaling...) by ‘n gimnasium aansluit en ‘n dieet- en oefenprogram begin volg. By die meerderheid mense is die dissipline egter van korte duur. Later betaal hulle net ledegeld maar oefen nie meer nie.


Dit gebeur helaas ook met ons voornemens om geestelik fiks te word. Ons wil meer toegewyd aan God lewe - ons begin met ‘n nuwe Bybeldagboek en ‘n dissipline om stiltetyd te hou, eredienste en kleingroepe by te woon maar kort voor lank is ons terug by die ou weë. Ons oefen ‘n paar keer en raak dan weer lui. Hoe gaan ons seker maak dat dit vanjaar anders gaan wees?


In die Bybel herinner Paulus die jong Timoteus aan die belangrikheid van oefen. Hy skryf dit in ‘n tyd en konteks waar mense by gimnasiums geoefen het. Hy moedig hom aan om te oefen maar met ‘n bepaalde perspektief. Hy skryf in 1 Tim 4:7 – 8 - “Moenie tyd verkwis met redenasies oor goddelose idees en ouvroustories nie. Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid. Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende.”


Om met ‘n voorneme om fisies en geestelik fiks te word te slaag, het ons o.a. twee dinge nodig: die regte motief en mense met dieselfde doelwit wat saam oefen. Soos wie wil jy graag wees? Wie is jou rolmodel? ‘n Sportman- of -vrou, ‘n akteur of aktrise met ‘n mooi liggaam? ‘n Held met briljante eienskappe en integriteit? En die tweede kritiese faktor – saam met wie oefen jy? Wie is jou stap-, hardloop- en fietsrypelle? Wie is jou “gym-buddies” in die gimnasium van die lewe?


Die sleutel tot liggaamlike en geestelike fiksheid is nie ‘n 6-weke program nie maar ‘n doelgerigte langtermyn leefstylverandering. Ons nooi jou uit om vir die volgende 7 weke saam met ons in ritme te kom met Jesus - om te oefen om geestelik fiks te raak en om nuwe ritmes en gewoontes aan te leer. Doen dit saam met ander mense wat jou doelwit deel.


Sien jou elke week in Kenridge Gemeente se gimnasium waar ons oefen om meer en meer soos ons rolmodel Jesus te word! Wees deel van ‘n Connect groep waar julle saam oefen in die week om meer en meer soos Jesus te wees! Dit is haalbaar en dit voeg waarde toe – in hierdie lewe én hierna!


Geseënde nuwe jaar!

27 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page