Aangename kennis. Dit is Ek.
- bestuurder5
- Mar 6
- 3 min read

Ek is nou in my middel-40’s. In die populêre sielkunde word dit beskryf as die half-tyd fase van die lewe. Die meeste mense in hierdie fase van die lewe neem bestek van waar hulle is en die pad wat tot hier gelei het. Richard Rohr verduidelik dat ons meestal eers bestekopname neem wanneer ons in hierdie tyd deur een of ander krisis tot stilstand geruk word, soos ʼn lewensbedreigende siekte, of verhoudings wat tot ʼn einde kom of verlies of enige van ʼn reeks ander krisisse. Ons stop nie sommer andersins nie. Ons word nie stil en kyk wie ons is of waarheen ons op pad is nie. Ons word meegevoer deur ʼn nimmereindigende vloei van take en verwagtings en insette.
Die grootste krisis in sulke tye is selde die krisis self. Dit is meestal die gewaarwording dat my lewe gebou is op ʼn klomp aannames en verwagtings en waardes wat ons ongetoets toegelaat het om ons te vorm. Soos ek deur die lewe beweeg is daar “scope creep” in my werk, die invloede van stemme uit die media (reekse, films, muisiek, podcasts), sosiale media (ons vriende, smaakmakers, nuusmakers) en die nuusmedia. Dit pak om ons saam soos modder om ʼn motorband – so dat ons na ʼn tyd nie meer die motorband herken nie en dan kom die vrae oor myself op “Wie is ek? Wie het ek geword?”
In die Lydenstyd-seisoen en in ons reeks met die geestelike dissipline van afsondering word ons juis uitgenooi om stil te staan en stil te word. Om die dinge af te stroop wat om ons menswees aanpak. Afsondering is die gereedskap wat ons hiervoor gebruik. Afsondering is nie bloot alleen-tyd nie - dit is om doelbewus na ʼn plek te gaan waar jy vry is van die insette van ander stemme en stimuli.
Die skrywer Jan Johnson vertel uit haar eie ervaring dat afsondering haar help om vry te kom van die "committee in our heads" - die interne stemme van oordeel en verwagting. Afsondering is die praktyk om hierdie stemme te leer ken, sodat ons kan leer om God se roepstem te kan hoor.
Ek word elke keer opnuut verras wat na vore kom wanneer ek mense op ʼn staptoer vat en ons elke dag die eerste uur in stilte stap. Daar in die bos, die wildernis - sonder selfoonsein en die notifications wat boodskappe, nuusgebeure, aanbiedings, die hele wêreld op jou laat spring – raak mense bewus: Die emosies van groot gebeure in ons en die wêreld; die verhoudings waarin ons is wat spanning dra; hoe moeg en oorweldig ons is. Wanneer ek so bewus word, kan ek die dinge sien wat ek saamdra en wat dit vir my moeilik maak om God se stem te hoor. Daar in die afsondering word dit moontlik om daai dinge van my vel af te krap en oor te gee aan God om so weer by God aanwysings vir die volgende tree op my lewenspad te kry.
Om daagliks doelbewus in afsondering in te gaan, met geen sensoriese inset nie, help ons om God self te ontvang. Afsondering is die houer waarin die Woord-gewoonte floreer. In afsondering kan ek soos Jakob by Bet-El, of Moses by die brandende bos hoor hoe God sê “Aangename kennis. Dit is Ek.” Afsondering is waar ek daagliks, soos Jesus in die Jordaan, kan hoor wie ek is: God se geliefde kind oor wie Hy baie bly is, sodat krisistye nie die eerste stilstaan oomblik word nie. Of dat ek nie eers in my middeljare myself hoef te ontdek nie. In afsondering kom die Here en stel my aan myself voor – die een wat God in gedagte gehad het toe Hy my geskape het - sodat ek vir myself kan sê “Aangename kennis. Dit is Ek.”
Heilige God, laat my stil word om by U te wees, soos U by my is.
Verlig my moegheid; Stil my kriewelrigheid; Troos my doelloosheid; Kalmeer my kompulsiwiteit; Laat my vir ‘n oomblik rustig wees.
Liewe Here, Maak my los van die vrees en skuld wat my styf vasbind; Van die verwagtings en opinies wat my vasgryp. Maak my oop om te ontvang wat U gee; Vir die risiko van iets nuut en onbekend; Om iets verfrissend anders te beleef.
Heilige God, laat my stil word om by U te wees, soos U by my is.
Amen.
Vertaal en aangepas van Ted Loder se Gathering prayer, Guerillas Of Grace.




Comments