Dis oorlog
- bestuurder5
- 2 days ago
- 3 min read

“We live in a love story in the midst of war” skryf John Eldredge in sy boek, The Sacred Romance. Hy verduidelik dan op grond van die Apostel Johannes se Openbaring (Op. 12:1-5, 7-8, 17) dat Jesus se geboorte ʼn inval was om die skepping te verlos van die Bose wat alles in sy greep het. Eldredge skryf dan in sy boek, Waking the Dead, “Until we come to terms with war as the context of our days we will not understand life.” En dan later brei hy dit uit deur te sê: “You have an Enemy. He is trying to steal your freedom, kill your heart and destroy your life.”
In ons reeks oor afsondering en stilte het ons ʼn paar maal die gedagte herhaal dat Jesus gereeld die stil plek gaan opsoek het. Die stil plek was aan die een kant die plek waar hy die perspektief op sy roeping behou het, waar hy in die middel van sy besige program sy emosionele en geestelike kragte gaan herlaai het en homself gaan voorberei het vir die werk van sy bediening.
Die plek van afsondering was egter ook die slagveld! Die storie van die woestyn-moeders en vaders vanaf die derde eeu af was juis dat afsondering en stilte alles behalwe ʼn terapeutiese stil-word was, maar om doelbewus die bose te konfronteer! Hulle het in die patroon van Jesus se 40 dae in die woestyn uitgegaan om die bose te gaan aanvat.
Die woestyn-moeders en vaders het die vyand gegroepeer as
1. Die wêreld: die stelsel van idees, waardes, praktyke en sosiale norme van 'n sondige samelewing. In afsondering sien ons hoe ons deur die wêreld vervorm word en met die stroom saambeweeg. Afsondering is juis die eerste teenstand wat ons bied teen “dit is hoe dinge is” en onsself heroriënteer om die mense te wees wat God ons gemaak het om te wees.
2. Die vlees: ons basiese, primêre, dierlike drif vir selfbevrediging, veral met betrekking tot seksualiteit en oorlewing. Dis ons wellus, ons gierigheid en ons vrees. In afsondering sien ons hoe ons baie maal oorgee aan die goeie en natuurlike begeertes, in plaas daarvan om daaroor te heers en as maniere verhoudingsbou te benader.
3. Die duiwel: 'n ware geestelike wese wat die lewenskrag van kwaad in ons siel en samelewing is - in stryd en teenstand met alles wat goed, mooi en waar is. In afsondering kry ons genoeg afstand om die halwe waarhede en leuens wat menswaardigheid inperk en afbreek aan te spreek vir onsself, maar ook vir ander mense.
In afsondering konfronteer ons die Bose juis om in God se teenwoordigheid te kan kom en dan met God se teenwoordigheid die mense te wees wat God se teenwoordigheid sigbaar maak in ʼn wêreld van geraas, afleiding, trivialiteit, verwarring. Hoe onderskei ons dan die stem van God teenoor die Bose in afsondering?
Die Bose sal jou aankla en wegdryf van God af... God se stem sal jou sonde aanspreek om jou nader te trek aan Hom.
Die Bose se stem jaag jou aan... God se stem maak jou stil.
Die Bose se stem skep vrees... God se stem gee gerusstelling.
Die Bose se stem maak deurmekaar... God se stem verhelder.
Die Bose se stem maak jou moedeloos... God se stem moedig aan.
Die Bose se stem bekommer jou... God se stem troos jou.
Die Bose se stem maak jou obsessief... God se stem kalmeer jou.
Mag jy intree in die stryd, nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug.
Mag jy uittree uit die sleurstroom van die wêreld, jou verwronge begeertes en die halwe waarhede van die bose.
Mag jy in die stilte en afsondering deur die geraas, afleiding, kleinlikheid en verwarring breek.
Mag jy ontdek dat God se koninkryk onstuitbaar op pad is en alles vul met God se vrede.




Comments