top of page

Eerstes en Laastes


ree

My en jou lewe is gevul met eerstes en laastes. Albei hierdie – die eerstes én die laastes – kan vir ‘n mens ongekende vreugde, of dalk onmeetbare hartseer en emosionele pyn bring.

Gedurende die week gesels ek met ‘n jong Pa van twee seuntjies. Die jongste enetjie sou hul laaste kindjie wees, want kinders grootmaak is dúúr. En toe word hy stilgebore. ‘n Pappa en Mamma en Ouboetie, en Oupa’s en Ouma’s wat met die eerste afskeid gekonfronteer word van ‘n babatjie wat hulle nooit sal vashou hierdie eerste Kersfees, of ooit sal sien grootword nie.

Ons lewe speel af tussen hierdie twee pole – die eerstes en die laastes. In die klas is daar net één wat eerste staan, die slimste. Die eerste oor die wenstreep ontvang die toekenning en staan hóógste op die podium en luister na die toejuiging. Die eerste omhelsing, die eerste soen met die een wat jy altyd sal liefhê, laat jou steeds duiselig voel as jy 30 of 40 of 50 jaar later aan daardie magiese oomblik dink.

Die een wat laaste gekom het in die resies of kompetisie se naam moet ‘n mens gaan naslaan in die wedstrydverslae. Niemand onthou sy of haar naam nie. Die laaste keer wat jy jou kosbaarste lewensmaat vasgehou en in sy of haar oë gekyk het, is in jou gedagtes en hart ingebrand. Die pyn van die gemis hou nooit op nie.

Die laaste dag by jou werk waar jy dalk tot ‘n groot mate jou identiteit gebou het, en die eerste dag van ‘n ‘afgetrede lewe’ lê wêrelde uitmekaar. Byna alles verander met hierdie laaste. Verlede maand is jou laaste salaris inbetaal, en van nou af moet jy mooi werk met jou haarfyn-beplande pensioen.

Ons lewe álmal – kinders, ouer mense, bejaardes – tussen hierdie twee pole van eerste en laaste. Baie eerste bring vreugde, en baie laastes kan jou met dankbaarheid vul.

En baie eerstes is pynlik seer, en baie laastes wens mens soms hoef nooit te gebeur het nie.

Darem snaaks dat die Bybel dan só graag na God verwys as die Eerste en die Laaste. En dat die Bybel dit doen veral in dié boek wat handel oor die lááste dinge en die tyd waarin alles tot ‘n einde sal kom, en God wat alles núút sal laat begin.

In Openbaring 1:8 en 17, en 22:13 hoor die bejaarde Johannes vir Jesus die volgende sê: “Ek is die Eerste en die Laaste, die Alfa en Omega, die Begin en Einde. Ek is die Lewende, wat dood was en tot in alle ewigheid lewe. Ek is die Here wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. En Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”

Indien jy hierdie woorde hoor en interpreteer vanuit jou eie verstaan van eerstes en laastes, begin en einde, gaan jy die troos van wat Jesus sê nie kan hoor nie. Ons dink mos as mense in liniêre terme. Ons leef ons lewe binne die begin en die einde, die eerstes en die laastes.

Maar God is tog Gans-Anders. Wanneer Jesus Homself die Eerste en die Laaste noem, dui dit daarop dat Hy in beheer van die geskiedenis is. Hy is óók búíte die geskiedenis, en laat dit gebeur binne sy wilsraamwerk. Hy is dus die oorsaak én die finale doel van die hele geskiedenis.

En daarom is Hy ín én bý al ons eerstes en laastes betrokke. Ons kan ons vreugdevolste eerstes uit sy hand ontvang, en Hom vertrou om ons seerste eerstes sagter te maak.

Ons kan ook ons dankbaarste laastes saam met Hom vier, en ons laastes wat diep in ons binneste ingeslaan het met Hom deel.

Hy is die Een wat ewig bestaan en ewig leef. En vir hulle wat aan Jesus verbind is, gee Hy die ewige lewe. Ewig – nie meer eerste of laaste nie. Dít is die nuwe lense waarmee ek na die lewe behoort te kyk. Dít is wat my lewe bepaal, en my ánders laat lewe.

As jy méér hieroor sou wou nadink, sou jy die laaste aanddiens van 2023 hier in Kenridge kon bywoon. Ons gaan waarskynlik vanuit hierdie gesprek oorstap in 2024. As die Here dit só wil.


 
 
 

Comments


bottom of page