Ek kniel in verwondering
- bestuurder5
- Feb 15, 2024
- 1 min read

Ek kniel in verwondering voor Jesus van Nasaret,
Seun van die Mens,
Seun van God.
Ek kniel in verwondering voor Hóm wat mens was soos wat ék mens is,
Jesus van Nasaret.
Wat is ek tog,
dat U aan my dink,
wat is ek dat U U oor my ontferm?
Dat U aan my soveel heerlikheid gee, soveel goedheid, soveel eer,
soveel grootsheid, soveel glans?
Ek kniel in verwondering voor U, Jesus van Nasaret, oor die mens wat U is,
Seun van die mens.
Wie is U tog,
wat kinders na U toe trek en hulle seën,
wat siekes ophef en herstel,
wat die bose weerstaan,
wat eenvoudiges uitnooi tot gemeenskap met U?
Ek kniel in verwondering oor u passie vir my, Jesus van Nasaret,
Seun van God –
oor u liefde tot die einde toe,
oor u lyding, u kruis, u sterwe –
alles vir mý,
alles uit liefde vir mý?
In hierdie dae, o Here, is ek in verwondering oor myself,
Jesus van Nasaret,
en oor U.
U kies mý om aan die lewe wat U verwerf het,
die lyding, die liefde,
deel te mag hê.
Wat is ék tog, Here?
Wie is ék tog, Here,
dat U aan my dink,
dat U na my omsien?
Here, my Here,
hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
(met erkenning aan Prof. Dirkie Smit in “Dieper as wat ons dink”, 2009)




Comments