Hoe groot is U
- bestuurder5
- Nov 17, 2022
- 2 min read

Die strate van Stellenbosch is stil. Ek sit op my bankie in Kerkstraat onder ‘n koelteboom en wag vir die kerkklok om te lui. Dit is 08:55. Vandag is my laaste dag as ‘n Matie. Ek is klaar gekweek by die Kweekskool. Hierdie plant is reg vir haar pot.
My gebede ritsel deur die blare. Ek sit sommer en gesels hardop met God. Die Jakarandaboom wat vir my skadu bied, is weer wakker na die winter en haar rok se sluier lê die straat vol. Pragtig pers. Ek verkyk my aan die lentebloeisels wat bot – weerloos en in afwagting om te groei. Ek pluk vir my ‘n paar.
Ek sê vir die Here dankie. Ek sê vir die Here asseblief. Hier in die hartjie van Stellenbosch sit en kuier ek en my Here heerlik. Ek huil. Ek glimlag. Ek lag. Ek voel Hom styf teen my sit.
Ek dink aan Psalm 8, ‘n lofpsalm. Dit is ‘n Psalm wat in sy geheel aan God gerig is. Soos met die psalmdigter is daar iets wat binne my gebeur wanneer ek my so aan Sy skepping staan en verstom. Hierdie is beslis ‘n “sela” oomblik. Soos Martin Luther gesê het: “’n Sela gee die Heilige Gees die geleentheid om vir jou te wys wat vir jou aangebied word.”
Die grootheid van God in die klein blom in die holte van my hand help my om op my knieë te kom. Ek het al baie maal blomme gepluk, op my rug gelê en sterre getel, op groen gras gesit en wolke gekyk, op rotse gestaan en die see ingeneem, in die strate van Stellenbosch gestap en na vreemde gesigte se bekende stories geluister, en getuienisse van ons Goeie God gehoor en vertel. En elke maal bid ek dieselfde gebed: “Hoe groot is U…”
Dit is 09:00. Die kerkklok lui. Ek woon my laaste klas by. Ek groet die gange, bedank die bankie en die boom wat my gebede vir 7 jaar lank geheim gehou het, en raas saam met die kerkklok. Kerkstraat in Stellenbosch is - net vir ‘n oomblik - nie meer so stil nie.
Ek is ‘n lofpsalm wat in my geheel aan God gerig is. Weerloos en in afwagting wil ek graag groei. Hierdie plant is reg vir haar pot; nog klein, máár haar God is groot.
Sela.
“O Heer my God, as ek in eerbied wonder en al u werke elke dag aanskou, moet ek juig, my Redder en my God! Hoe groot is U. Hoe GROOT is U. Amen.”
(Psalm 8)
Ons gesels weer!
Liefdegroete
Melinda
Comments