top of page

Judas het ook geëet

ree


Enkele ure voor Jesus se dood, het Judas ook geëet.

Jesus het vir Judas ook paasfeeskos gegee.

Jesus het vir Judas ook geleer en vir hom gebid.

Jesus het Judas se voete ook gewas.

Dit bly moeilik om sulke onbegryplike mates van liefde behoorlik te verstaan.

 

'n Liefde wat die mond voed wat jou verraai het.

'n Liefde wat die voete van jou verraaier was.

'n Liefde wat die mees afskuwelike verraad teen jou vergewe.

Eerlikwaar, dit is nie grappies om dit na te volg nie.

 

Selfs toe Judas sy planne gemaak het, selfs toe die donkerte reeds in sy hart nesgeskrop het – het Jesus nog na hom gekyk met deernis in sy oë. "Vriend," het Jesus hom aangespreek toe Judas Hom genader het met die soen van verraad.

 

Wat gaan deur 'n mens se hart as jy 'n man verraai wat jou op daardie oomblik nog met liefde aanspreek? Wat gebeur as jy jou siel verruil vir dertig stukke silwer, en tog vind jy jouself vasgevang in die blik van 'n Messias wat nooit opgehou het om vir jou om te gee nie? Selfs in daardie struikeling, in daardie nag van verraad, het liefde nie opgehou nie. Want Jesus se liefde is nie voorwaardelik nie.

 

Ek het besef ... ek is ook Judas! Ek is so dankbaar dat Judas ook geëet het. Iemand het eenkeer gesê: Die ware toets van Christenskap is nie om vir Jesus lief te hê nie maar om die Judasse in jou lewe lief te hê.

 

Om iemand lief te hê soos vir Jesus is maklik, maar om iemand lief te hê wat moeilik is om lief te hê, 'n sondaar soos Judas, is moeiliker.

 

Maar dit is ook waaroor dit gaan as gelowiges vir Jesus navolg.

 

Gebed: Here help my om ander mense lief te hê soos wat U vir ons het. Amen

Comments


bottom of page