top of page

#kenridgetieners ouerbrief (Gr 6-11) 11/05/2022


Liewe Ouers,


GRAAD 6 & 7:


Wat het ons geleer?

Ons het Sondag in ons groepe gesels oor Josef, maar spesifiek hoe God se teenwoordigheid in die lewe van Josef gewerk het, uit Genesis 45 en 50. Josef se storie herinner ons ook aan die storie van Jesus se lyding, en ook sy opstanding.

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Om te ontdek dat moeilike omstandighede nie beteken dat God weg is of nie meer vir ons omgee nie.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor hoe God naby aan ons bly en vir ons die krag gee om deur moeilike omstandighede te gaan.

  • Impak (Aksie en optrede): Om moeilike omstandighede te hanteer as ʼn manier om ons sterker te maak of voor te berei vir die maniere hoe God my in die toekoms wil gebruik.


Saamdoen:

Ons wil julle as ouers aanmoedig om iewers gedurende die week ʼn koffie-afspraak met jou tiener te maak en dan weer oor die tema te gesels. Julle kan dan die volgende riglyne gebruik om te gesels:

  • Luister saam na die Examen-gebed en gesels dan oor die maniere hoe julle God se teenwoordigheid in julle lewens raaksien.

  • As jy agterkom dat God, op verskillende tye naby jou is, hoe help dit jou om te dink oor tye waar dit moeilik gaan?

  • Hoe kan God moeilike omstandighede in jou lewe gebruik om jou voor te berei vir die toekoms?


Komende Sondag:

Ons gesels die volgende twee Sondae oor Moses.




GRAAD 8-10:

Ons gaan verder met ons tema vir hierdie kwartaal “God se vingerafdrukke” wat handel oor God se genade. In die kerkjaar fokus ons op die oomblik op God se verlossing deur Jesus, saam met Goeie Vrydag en Paassondag, en die temas volg hierdie gedagtegang. Ons het die afgelope Sondag gesels oor “Vingerafdruk van die ongenooides” uit Lukas 14:15-23.


Wat het ons geleer?

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Om te ontdek dat God se genade nie die patroon van ons wêreld volg nie en selfs teen die stroom is.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor hoe God sondaars kan liefhê en mense wat dit glad nie verdien nie, deel maak van God se storie met die wêreld.

  • Impak (Aksie en optrede): Om met die vryheid wat God se genade vir ons gee te leef en dit so vrylik uit te deel as wat ons dit ontvang.


Saamdoen:

Ons wil julle as ouers aanmoedig om iewers gedurende die week ʼn koffie-afspraak met jou tiener te maak en dan weer oor die tema te gesels.

Julle kan dan die volgende riglyne gebruik om te gesels:

  • Luister saam na die Examen-gebed en gesels dan oor die maniere hoe julle God se genade in julle lewens raaksien.

  • Waar het julle al gesien dat God se genade iemand van wie jy dit nie verwag nie, se lewe verander?

  • Wat wys hierdie storie vir jou oor God se genade?


Komende Sondag:

Ons gesels die komende Sondag oor “Vingerafdrukke van Saggeus.”

Ons nooi julle om saam met julle tieners om 18:30 die aanddiens by te woon. Die tieners sal dan na die lofprysing en die preek uitgaan na hulle groepe, waar hulle tot ongeveer 20:00 saamkuier.



GRAAD 11 (Belydenisklas):

Ek Glo - Belydenisklas ouerbrief


In die kerkjaar fokus ons op die oomblik op God se verlossing deur Jesus, saam met Goeie Vrydag en Paassondag. Daarom hanteer ons temas wat hierby aansluit. Die Belydenisskrifte van die kerk leer ons dat die doop die manier is hoe ons volledige deel kry aan Jesus se sterwe en opstanding en dit was dan ook hierdie Sondag ons tema.


Wat het ons geleer?

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Om te ontdek dat die doop veel meer as net ʼn simboliese ritueel is waarby ouers betrokke is.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor die doop wat al God se beloftes lewendig maak en hou in my lewe.

  • Impak (Aksie en optrede): Om te leef uit my doop – dat my identiteit in Jesus Christus vas is omdat God oor my sê “Jy is my geliefde kind.”


Saamdoen: Doopherinnering

Gesels bietjie oor hoe die kerklike doop verskil van eerste sportspanne se doop, maar ook dalk hoe dit ooreenstem.


Herinner jou kind aan jou kind se doopdag. Jy kan jou vinger natmaak en ʼn kruisie op jou kind se voorkop maak, terwyl jy sê: “Jy is gedoop in die Naam van die Vader, Seun en Gees. Niks kan jou ooit uit God se hand ruk nie.”



Komende Sondag:

Die komende naweek gesels ons oor die Nagmaal.

Twee byeenkomste:

10:00 - 11:00 (Direk na die oggenddiens – Koshuis kinders.)

18:30 – 20:00 Ons nooi julle om saam met julle tieners om 18:30 die aanddiens by te woon. Die tieners sal dan na die lofprysing en die preek uitgaan na hulle groepe, waar hulle tot ongeveer 20:00 sal saam gesels.


Shalom

Christi Thirion


6 views

Recent Posts

See All
bottom of page