top of page

Kersfees beteken...

ree

Daar is baie betekenisse en belewenisse wat Kersfees vir mense tot Kersfees maak. Dis vir die meeste mense ‘n tyd van meer-ontspanne en minder gejaagd leef. See en son, braai en kuier, die inhaal van verlore ure se slaap (wat wetenskaplik bewys is nié moontlik is nie), en die wegkom van mense en omstandighede wat jou lewe gespanne en angstig maak – dít álles kleur vir ons die prentjie van Kersfees mooi in.


Ek en jy wat hier lees, weet en verstaan óók dat Kersfees beteken dat ons Here God in Jesus Christus mens geword het en onder ons kom woon het (Joh.1:14). Hy luister na wat ek en jy  vertel oor wat ons beleef en wie ons is, Hy stap langs ons op ons lewensreis sodat ek nie in sirkels ronddwaal, én verdwaal nie. En Hy vat my hand om saam met Hom te bly reis na dié plek wat Hy in sy Vaderhuis vir my gereed gemaak het (Joh.14:2-3).


Om myself gedurig daaraan te herinner dat ek nié alléén op my lewensreis is nie, is waarskynlik die grootste geskenk wat ek in Kersfees kán ontvang. Dié God wat ons ewig liefhet, het sy enigste Seun gestuur om altyd en in alle omstandighede by ons en saam met ons te leef.


En omdat Jesus sélf volledig mens was, én volledig God, én volledig sonder sonde, mag ek en jy glo dat dié Een wat saam met my stap in alles betroubaar is, en ten volle in staat is om my lewe te bewaar, en my nóóit te verlaat nie. Omdat Hy mý eerste liefgehad het.


Dis nie altyd só eenvoudig om die Here in die ruimtes van my lewe te erken nie. Soms kan dit ongemaklik raak as ek onthou dat Hy hiér is, en dan probeer ons hierdie gedagte doelbewus verdryf, omdat ons die skaamte nie wil beleef indien ons ontdek of ontbloot word nie. En soms bring die lewe verwarring en ‘n gevoel van verlorenheid, of dalk ‘n intense moedeloosheid, wat veroorsaak dat ek in daardie ruimtes nié aan God wíl of kán dink nie. Dit neem eenvoudig net té veel energie.


Omdat die Here God my en jou só goed ken, wil Hy hierdie Kersfees aan ons die hernude uitnodiging rig om nié angstig of vreesbevange te raak, óf te wees nie. Om óók nie vir Hom te probeer wegkruip nie, maar om Jesus in te nooi in ál jou lewensruimtes om élke tree saam met jou te stap, en by elke stilhouplek aan jou nuwe energie en hoop, en lewe te gee.


Kersfees wil ons opnuut laat ontdek, én laat glo: God het die wêreld só liefgehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh.3:16).


Beleef Christus bý jou hierdie Kersfees! Geniet sy teenwoordigheid, en die teenwoordigheid van almal wat vir jou kosbaar en dierbaar is.

Comments


bottom of page