top of page

Leef vanuit die dood


Paulus het in Filippense 1 geskryf dat om te lewe vir hom Christus was en om te sterwe vir hom ‘n wins sou wees. Jesus het in Johannes 12 vir Filippus en ‘n klompie Grieke wat van Betsaida af gekom het en vir Jesus wou sien, gesê dat ‘n koringkorrel in die grond moet val en sterf voordat dit baie vrugte kan dra. Charles John Ellicott, die Cambridge Bybelgeleerde van die 1800’s, het oor Paulus se lewe wat Christus was en sy sterwe wat ‘n wins sou wees, geskryf: ‘Death is a new stage in the progress of union with Christ.’ Of dit die fisiese dood is en of dit die spreekwoordelike sterf aan jouself en jou sondes is, dit bly ‘a new stage in the progress of union with Christ.’

Ons is in Lydenstyd en op pad na Paasfees. Die omgekeerde waarheid van Jesus se evangelie is dat nuwe lewe uit die dood spruit.

Dit was nog altyd baie abstrak en bo-werklik om te verstaan hoe om dood te gaan soos wat die Bybel vra en tog te bly lewe. Wat bedoel Paulus as hy sê ons het saam met Christus gesterf en ons is saam met Hom uit die dood opgewek?

Hoe gaan gelowiges dood maar hulle bly lewe? Het Christus nie klaar vir ons gesterf nie?

Die goeie nuus is dat Jesus in Johannes 12 (net na die koringkorrel vers) die mistige raaiselagtigheid rondom ons lewende dood en gevolglike nuwe lewe soos vuil ruite skoonmaak. Hy het gesê: ‘Wie sy lewe in hierdie wêreld GERING AG, sal dit vir die ewige lewe behou.’  Die Boodskap Vertaling vertaal dit so: ‘Wie egter ander in die lewe eerste stel en bereid is om opofferings te maak, al kos dit wat, leef soos God dit wil hê. Hulle sal alles wen.’   

Kom ons oefen met vanjaar se Paasfees die kuns in om onsself gering te ag en ander hoër as onsself te stel. Jesus het dit gedoen.

Gebed: Here help ons om aan onsself te sterf, onsself gering te ag en saam met U nuut te lewe.  Amen.

7 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page