Liefde vir jou stad
- bestuurder5
- Oct 20, 2023
- 4 min read

In ons Connect-groepe is ons besig met ‘n reeks deur Timothy Keller getiteld, “Gospel in Life”. Dit is ‘n reeks oor hoe om die evangelie in ons hele lewe uit te leef – eers in ons harte, dan in ons gemeenskap en op-die-ou-einde: die wêreld in.
Sessie 1 begin deur te gesels oor stede. Ons tuiste. Die wêreld waarin ons nóú leef. Die laaste sessie (sessie 8) sluit af met die ewige stad. Die wêreld waarin ons eendag sál leef. Die tuiste waarheen ons oppad is. Tussen-in gaan ons kyk na hoe die evangelie ons harte verander, hoe dit ons gemeenskappe verander en hoe dit die manier waarop ons in die wêreld leef, verander.
So eerste: stede.
As Christen, kan ‘n mens verskillende houdings inneem ten opsigte van stede. Een van hierdie houdings is om stede te verromantiseer. Christene wat dít doen gebruik taal soos “om die stad lief te hê.” Ek is ‘n gebore Kapenaar en ek verstaan dat dit maklik is om die Kaap lief te hê. Dit is een van die mooiste stede ter wêreld - en dit is nie net my persoonlike opinie nie! Wêreldwyd word Kaapstad beskou as een van die mees aantreklike toeristebestemmings. Dit is ‘n stad wat ‘n groot verskeidenheid van aktiwiteite en vermaak aanbied; die kunste by die Artscape teater; internasionale sport in die Kaapstad stadion; sonskyndae op die strand; stap en fietsry in die berge; wyntoere in die Boland; van die beste restaurante in die land… die lys is nimmereindigend.
As mens só daarna kyk moet jy erken dat sommige Christene dalk meer meer lief is vir die ervarings wat ons stad bied, as vir die stad self. Dit is veral waar van Christene wat nie geld en moeite daaraan spandeer om ons stad ‘n beter en gesonder plek te maak nie; mense wat net in die populêre en gesofistikeerde dele van ons stad uithang en wat nooit in die plakkerskampe en die rampgebiede en die afgeskeepte buurte kom nie.
‘n Tweede houding wat ‘n mens teenoor stede kan inneem is om die stad te verafsku. Dit is om die stad te beskou as ‘n fokuspunt van losbandigheid, geldgierigheid, verval en alles wat boos is. Sulke mense vermy stede soos die pes; of as hulle dan nou die stad móét besoek (waarskynlik om ‘n dokter te kom spreek), hou hulle hul asem op totdat hulle weer so gou moontlik die stad kan verlaat.
En dan is daar ‘n derde houding wat jy kan inneem: jy kan bloot apaties wees teenoor die stad. Mense met hierdie houding sal nou nie juis sê hulle is lief vir die stad nie; hulle haat ook nie die stad nie. Die stad is maar net wat dit is. En vir hulle is dit nie nodig om spesiaal te investeer en ‘n verskil te maak aan die stad nie, want dit is maar net nog ‘n plek.
Elkeen van hierdie houdings hou bepaalde gevare vir ons as gelowiges in.
Dié wat die stad verromantiseer moet nie vergeet van die geestelike lokvalle wat stede stel nie: lokvalle van geld, politiek, mag en seks. Diegene wat baie lief is vir stede moet sensitief wees hiervoor en moet bewus wees daarvan dat nét soos wat stede ‘n vergrootglas kan wees vir die goeie dinge en die lekker dinge in die lewe, kan dit ook ‘n brandpunt vorm vir die skadukant en vir die bose in die lewe.
Dié wat stede verafsku vergeet dat ons geroep is tot liefde. Hulle vergeet hoe die Here met Jona geredeneer het in Jona 4:11: “Maar jy wil nie hê Ek moet bekommerd wees oor die groot stad Nineve nie, waarin daar meer as 120 000 mense bly wat nie reg van verkeerd kan onderskei nie en waarin daar so baie diere is. Het Ek nie die reg om My oor hulle te bekommer nie?” Die Here probeer nie hier vir Jona oortuig om die stadlewe te omhels en ewe skielik lief te word vir die ervarings wat die stad bied nie; hy wil eerder by hom weet: “Hoe kan hierdie groot klomp mense se geestelike dors, hulle onkunde en hulle hunkering na God jou nie aanraak nie?”
En dié van ons wat apaties teenoor stede staan, vergeet dat stede deur God gemaak is. Dis reg! Stede is nie ‘n menslike ontdekking nie. God self het stede geskep sodat mense skuiling kan vind teen die wildernis; sodat mense hul hulpbronne en talente kan saamgooi om vinniger vooruit te gaan en mekaar se lewens beter kan maak; sodat mense saam kan staan om hulself teen gevare te verdedig; sodat hulle saam ‘n God-vresende gemeenskap kan bou.
Tim Keller vat dit pragtig saam wanneer hy sê: “Those who hold together all the biblical insights about cities should love the city itself (not just the experience) through witness and sacrificial service to the well-being of neighbors, whether they believe what we do or not (Luke 10:25-37). They should expect hostility, to never be fully accepted (1 Peter 2:12) and yet not bristle or be hostile in turn. They should love the city by praying for and seeking its good (Jer. 29:7).”




Comments