Ons verbonde aan – Jesus – verbonde aan ons
- bestuurder5
- Jul 12, 2024
- 2 min read

Johannes 15:1-8
Die pragtige beeld van die druiwestok met lote beklemtoon verskillende aspekte van ons geloof in Jesus Christus en van ons praktiese geloofslewe:
· Daar is bv sprake dat die gelowiges, dit is die navolgers van Jesus, geloofsvrugte moet dra. Ons leefstyl moet herinner aan die leefstyl van Jesus en dit kan duidelik uitgeken word aan die dinge waarmee ons besig is en wat ons sê, en ook waarom ons dit alles doen en sê...
· Daar is ook sprake van snoeiwerk. God die Vader is soos die boer wat sy wingerd snoei. Waterlote word weggesny, want hulle dra nie vrugte nie, en vrugdraende lote word skoon gesny en gevorm om optimaal vrugte te dra. Daar is oordeel en genade in hierdie snoeiproses…
· Laastens is die gelowige se lewe aan Jesus verbonde soos wat wingerdlote vasgegroei is aan die wingerdstok… Hierdie laaste aspek is miskien die sleutel om Jesus se klein gelykenis te verstaan – tot 10 keer word verwys daarna dat die dissipels soos wingerdlote “in Jesus ” moet bly en Hy “in hulle” sodat hulle nie die gevaar loop om afgesny en verbrand te word nie. Jesus is die middelpunt; Hý en Hy alleen is die hoop van die wêreld; Hý is ons vrede; Hy is die enigste Redder; Hý is die Here, die Kurios, en niemand anders nie (ook nie die destydse Romeinse keiser nie en ook nie hedendaagse magtiges nie, selfs nie die kerk nie)…
As mens dink oor die kerk en selfs sing oor die kerk, dan bestaan ons en is ons en beweeg ons slegs in Hom (Romeine 11:36). Dus: so naby as moontlik aan Hom; agter Hom aan. Want as die gelowige volgelinge van Jesus dit verloor, wel, dan versluier ons die Here Jesus, in plaas van Hom uit te wys aan die wêreld. Hierdie wêreld wat deur Hom ontstaan het en vir Hom gemaak is (Johannes 1:3)… en dan mis die kerk straks die lig en die lewe wat slegs Hy na sy kosmos bring.
Mag Sondag se nagmaal jou opnuut verbind aan Jesus Christus, soos wat Hy Homself reeds aan jou verbind het. Hý is ons toekoms en ons hoop.




Comments