top of page

Optimisme

bestuurder5


2025 gaan ‘n goeie jaar wees. Daar is verkeie redes wat ‘n mens hiervoor kan aanvoer: dit lyk asof rentekoerse bietjie gaan daal, die regering van nasionale eenheid maak ‘n groot verskil, ons het amper ‘n jaar gelede beurtkrag gehad en die prys van brandstof is heelwat laer as hierdie tyd laasjaar. Ons het dus goeie rede om optimisties te wees.

 

As ‘n mens ‘n kind van die Here is, werk optimisme egter so ‘n bietjie anders as in die bostaande paragraaf. Die grondslag van Christelike optimisme het minder te doen met of ons omstandighede positief of negatief vir ons voel en eerder méér te doen met Wie ons glo verantwoordelik is vir ons sukses of mislukking.

 

Die Bybel se argument vir Christelike optimisme berus grootliks op ons definisie van sukses en mislukking. As Christene plaas ons nie ons hoop in prestasie nie; ons vind ook nie ons waarde in prestasie nie. Ons vind dit in geloof. Ons weet dat alles wat ons is, het en doen kom van die Here af. Daarom sê Johannes 15:5 “…want sonder My kan julle niks doen nie.”

 

Ten spyte van ons verbondenheid aan God, is dit steeds moontlik om pessimisties te wees. Die wêreld en die vyand probeer die heeltyd vir ons oortuig dat ons opgemors het, dat ons sal opmors en dat ons opgemors is. Romeine 8:1 verseker ons egter dat “vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.”

 

Een van die mooiste skrifgedeeltes oor optimisme is Matteus 6 vanaf vers 22:

22“Jou oog is ’n lamp vir jou liggaam. ’n Suiwer oog laat die lig instroom sodat jou binneste geheel en al lig word. 23 Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie!”

 

In die tyd van die Nuwe Testament het die Joodse idioom, om ‘n slegte of vuil oog te hê, beteken om selfsugtig te wees. Dit was om op te tree uit vrees en vanuit ‘n skaarsheid-mentaliteit. Om dus daarteenoor te praat van ‘n suiwer oog wat die lig laat instroom, het gegaan oor ‘n anderste manier van die lewe beskou en verstaan. Christelike optimisme gaan daaroor om die wêreld en die lewe anders te sien; om die hand van God oral te soek; om te weet Hy is altyd by ons; om te weet Hy is lief vir ons en om te glo dat Hy ‘n Goeie Vader is.

 

Mag jy in 2025 baie optimisties leef. Nie omdat dit beter gaan in Suid-Afrika nie. Ook nie omdat jou omstandighede radikaal verbeter nie, maar omdat jy weet wie jou Vader is en omdat jy jou hoop in Hom plaas.

 
 
 

Comments


bottom of page