top of page

Diens en gebed hoort saam

Die ou kerkvader van Kartago in vandag se Tunisië, Tertullianus het in die 2de eeu na Christus al gesê: “Die Onse Vader-gebed is ‘n kort gebed. Maar hoe meer beknop die bewoording is, hoe wyer is die betekenis. Die Onse Vader vervul nie net die eerste funksie van die gebed, naamlik: die verering van God nie maar ook die grootste funksie van die gebed: dit omvat die hele Woord van die Here en gee ‘n volledige oorsig van sy volle leer. Ja, binne die bedes van die Ons Vader-gebed het jy die hele Evangelie.”

 

Mag die Onse Vadergebed die volle omvang van ons lewens verander en ons so selfloos en liefdevol soos Jesus rig op ander mense en hulle struwelinge.

 

As ek bid ‘ONSE’, beteken dit ek leef nie vir myself nie.

 

As ek bid ‘VADER’, beteken dit ek het sy kind geword.

 

As ek bid ‘WAT IN DIE HEMELE IS’, beteken dit ek maak nie skatte op aarde bymekaar nie.

 

As ek bid ‘LAAT U NAAM GEHEILIG WORD’, beteken dit ek het oorgegee aan Hom en ek bly in sy diens.

 

As ek bid ‘LAAT U KONINKRYK KOM’, beteken dit ek is nie my eie koning op my eie troon vir my eie empire nie.

 

As ek bid ‘LAAT U WIL GESKIED’, beteken dit ek verstaan my eie sondigheid en my eie kortsigtigheid.

 

As ek bid ‘SOOS IN DIE HEMEL, NET SO OOK OP DIE AARDE’, beteken dit dat ek my roeping verstaan om van die aarde ‘n hemelse plek te help maak.

 

As ek bid ‘GEE ONS VANDAG ONS DAAGLIKSE BROOD’, beteken dit dat ek soos Jesus van my brood op ander mense se tafels sal sit.

 

As ek bid ‘VERGEEF ONS, ONS SKULDE’, beteken dit dat ek diep en opreg berou het oor my sondes en my verlorenheid.

 

As ek bid ‘SOOS ONS, ONS SKULDENAARS VERGEWE’, beteken dit dat ek verhoudings help heelmaak deur ander mense te vergewe soos wat Jesus my vergewe.

 

As ek bid ‘EN LAAT ONS NIE IN VERSOEKINGS KOM NIE’, beteken dit dat ek vir Jesus as my Leidsman vertrou want Hy weerstaan alle versoekings.

 

As ek bid ‘MAAR VERLOS ONS VAN DIE BOSE’, beteken dit dat Hy die enigste Weg en Waarheid en Lewe is wat mense se sondes kan vergewe en die bose oorwin.

 

As ek bid ‘WANT AAN U BEHOORDT DIE KONINKRYK’, beteken dit ek probeer verstaan dat Hy die enigste Koning is wat met ‘n doringkroon oorwin het.

 

As ek bid ‘EN DIE KRAG’, beteken dit dat ek na Hom toe kan gaan as ek moeg en oorlaai is.

 

As ek bid ‘EN DIE HEERLIKHEID’,  beteken dit dat Jesus se heerlikheid al die onreg en pyn in hierdie lewe wil vervang met sagte genade, troos en liefde.

 

As ek bid ‘TOT IN EWIGHEID’, beteken dit dat ek glo dat Hy vir alle gelowiges gaan plek voorberei het en voor die heel vroegste begin daar was en na die heel laaste einde nog daar sal wees.

 

As ek ‘AMEN’ bid, beteken dit dat ek kinderlik in Hom glo.

Comments


bottom of page