Die ander kant van die munt

Die idioom “die anderkant van die munt” beteken twee dinge wat op die oog af min met mekaar te doen het, of teenoorgesteldes is maar eintlik ten diepste aan mekaar verbind is of aan mekaar gekoppel is. Die geestelike dissiplines funksioneer so aan twee kante van dieselfde munt.
Aan die een kant kry ons die dissiplines wat baie geestelik is of die wat na binne gerig is en ons selfs wil laat stop en tot rus kom. Aan die ander kant kry ons weer dissiplines wat jou oproep tot aksie en beweging, wat jou uit die binnewêreld druk en soms selfs oppervlakkig kan lyk.
Ons is op die oomblik besig met die geestelike dissipline van diens en al die gepraat oor diens wil my sommer aan die beweeg laat kom – want diens pas op die oog af nie by praat nie. Maar diens is die anderkant van die Sabbat-dissipline. Sabbat nooi ons om te stop en tot rus te kom saam met God. Dis deels ʼn belydenis dat ons nie soos masjiene elke dag met vol programme kan hardloop en werk nie, maar ook ʼn vorm van teenstand teen die idee van lewens wat gedefinieer word deur produktiwiteit. Sabbat gee vir ons ʼn raakpunt met God en die geloofsgemeenskap, waar ons weer ons identiteit ontdek – beelddraers van God; en ons daai identiteit van ons medereisigers bevestig.
Diens is die anderkant van daai munt – want in Sabbat ontvang ons, terwyl ons deur diens gee. Met Sabbat rus ons ons, met diens werk ons. Sabbat laat ons terugdraai na God, sodat ons met diens kan draai na ons naaste.
Die meer “geestelike” na binne gerigte dissiplines, soos Sabbat, vas, stilte en afsondering, help ons om ons prioriteite te orden sodat ons soos Jesus kan dien. Sodat ons binne die wêreld van werk, verhoudings, produktiwiteit, verwagtings en sosiale druk ruimte kan kry om ander en hul behoefte raak te sien. Wanneer ek ander en hulle behoeftes raaksien het ek ook die tyd en kapasiteit om iets daaraan te doen.
Enige geestelike dissipline wat nie in diens tot die naaste uitloop nie, is leeg. Christus wys op verskeie plekke (o.a. Matt. 9:12-13; Luk. 4:18-19) dat dit juis vir die armes en gebrokenes is vir wie Hy mens geword het. Die doel van Christelike praktyke is juis om as dissipels van Jesus te leer leef en daarom kan geen gelowige se agenda van Jesus s’n verskil nie.
Dade uit solidariteit met die armes is nooit om eie skuldgevoel te salf of aansien te kry nie. Ons het juis solidariteit met behoeftiges se fisiese situasie omdat ons diep bewus is van ons eie geestelike armoede en gebrokenheid wat deur God herstel word. Solidariteit met die armes behels dat gelowiges ander se laste dra, gasvry is teenoor vreemdelinge en dakloses, om nederig te wees en alle mense met ewemenslikheid te hanteer. Om die minste van Jesus se broers te dien, is om Hom te dien (Matt. 25:40), maar ook om Hom na te volg in sy volle wese (Fil. 2:5-9). “Christian practices are only made complete in
acts of service – in the washing of feet, the feeding of the hungry, and the clothing of the naked – and in every true act of sacrifice.” – Mike Yaconelli




Comments