top of page

"Paint Paradise"


ree

Een van die radiostasies waarna gereeld in ons kar geluister word, is KFM. Ek het so bietjie van ʼn love-hate verhouding met KFM, want die stasie speel van die meer moderne pop musiek, maar ook ʼn paar treffers van toe ek nog jonger was. Elke keer as ek ʼn liedjie saamsing wat op KFM speel, is die kans baie goed dat ek vir my kinders kan vertel dat hierdie ʼn groot treffer was tydens my skooldae... en dit herinner my dadelik dat my skooldae al verder en verder in die geskiedenis is. Maar dit is nou nie waaroor dit gaan nie.

Een van die jonger-dae-treffers wat op die oomblik gereeld verbykom, is Big Yellow Taxi deur Counting Crows. (Dis eintlik ʼn Joni Mitchell liedjie uit die 70’s – niks nuut onder die son nie, sê die Prediker.) ʼn Refrein in die liedjie is “They paved paradise and put up a parking lot.” Die liedjie gaan oor die omgewings- en sosiale probleme wat die sanger sien, omdat verstedeliking, modernisme en kapitalisme die natuur en kultuur aan die een kant kommodifiseer en aan die ander kant bedreig.

Ek het in my skooldae die liedjie se refrein gehoor as “They paint paradise and put up a parking lot.” (Hoeveel liedjies het jy so met ander woorde gehoor, tot jy die kasset of die CD se stofomslag gekry het en dan gesien het die lirieke is eintlik heeltemal anders? Ek bloos sommer.) Ek het die res van die liedjie interpreteer dat die kapitalistiese stelsel skep vir ons ʼn ideale paradys-prentjie met goeie bemarking en dan moet ons betaal om daardie paradys by ʼn plek met blink ligte te gaan beleef. Die uiteinde is dat daardie paradys eintlik baie oppervlakkig is en dat ons die ware paradys, soos Eden, met bome en verhoudings verloor of misloop. Maak nou nie saak hoe jy daai lyntjie se woorde hoor nie, dit bring ons by baie dieselfde plek uit.

Ons diepste verlange en begeerte is na Paradys.

Ek weet nie eers mooi hoe om daardie Paradys te beskryf nie. My verbeelding het dit as ʼn groen en boomryke omgewing met waterstrome en ʼn matige klimaat. Dis ʼn plek waar verhoudings eenvoudig en ongekompliseerd is – oop, sonder agendas en opreg. Waar alle mense met vreugde hul gawes, tyd en dinge deel en met net soveel dankbaarheid ander se gawes, tyd en dinge ontvang. Waar ons God duidelik sien en hoor sonder om te wonder. En maak nie saak hoe ek dit verder beskryf nie – ek sal afbreek doen en te klein dink en dit onderskat.

Nou is ons egter in die tyd van ʼn paved paradise of paint paradise. ʼn Maklike en vals paradys. Dis die paradys wat ek sal bereik as ek my jaar se doelwitte bereik het. Dis die paradys van vakansie by die see. Dis die paradys van ‘as my huis net so kon lyk’ of ‘as ek net daardie kar kon ry’ of ‘as ek die regte man of vrou kan kry’ of ‘as my man of vrou net só kan wees’ of ‘as my kinders net...’ en so kan ons aangaan.

Sondag is die begin van Advent-seisoen waar ons juis fokus op ons afwagting en verwagting. Advent is die tyd waar ons ons diepste begeerte en verwagting weeg. Vakansie-tyd is ook ʼn tyd vir refleksie. Wanneer ons stilsit kan ons vir die Here vra watter paved/ paint paradise ek voor jaag en werk.

Advent is die seisoen waar ons ons verlange en begeerte weer kalibreer: Eerste Advent-Sondag is Sondag van Hoop – Ons kalibreer ons hoop op Jesus wat (weer) gaan kom. Om al God se belofte finaal en volledig te vervul; om die aarde en ons elkeen heel te maak.

Tweede Advent-Sondag is Sondag van Vrede. Ons kalibreer ons verlange na vrede op Jesus wat God se vredemaker met die hele skepping en mensdom is, wat dit moontlik maak vir mense om vrede te maak met hulself en mekaar. Wat vrede bring in oorloggeteisterde plekke. Wat vrede bring tussen natuurkragte.

Derde Advent-Sondag is Sondag van Vreugde. Ons kalibreer ons verwagting en begeerte na vreugde op Jesus wat God se koninkryk laat kom in en deur die eenvoudige, soos skaapwagters, mosterdsaad en koringkorrels, een verlore skaap wat gevind is, een waardevolle pêrel.

Vierde Advent-Sondag is Sondag van Liefde. Ons kalibreer ons verwagting en begeerte na liefde om die gestalte van ʼn slaaf aan te neem. Ons is lief, soos Jesus deur met ons liggaam, siel en gees ons naaste met liefde te dien, hulle voete te was.

Die belofte van Advent is dat dit vir ons ʼn voorsmaak gee van Paradys. Dat ons daarmee proesels en flikkeringe van die verlore Paradys beleef. ʼn Paradys wat ʼn genade-geskenk is, wat niemand vertrap, weggooi of teleurstel nie.

 
 
 

Comments


bottom of page