Psalm 103
- bestuurder5
- Oct 13, 2022
- 2 min read

(Dit is dou voor dag. Ek lê vroeg oggend en rol rond. Ek besluit ek gaan opstaan. Ek maak vir my ‘n koppie koffie. My beskuit is Psalm 103.)
Psalm 103
1 “Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.
2 Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.
20 Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam.
21 Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen!
22 Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers! Ek wil die Here loof!”
Hierdie Psalm lees soos ‘n loflied, waarvan die lirieke ‘n gebed is.
Psalm 103 help vir my om beter te verstaan waarom mense, wanneer hulle bid, ‘n bepaalde liggaamshouding inneem. Party buig die knieë, ander die nek, en ander laat sak hulle koppe. Ons maak ons oë toe en ons – of ek, altans - rus my handpalms teen mekaar. My ma het my so geleer.
Hierdie is nie een ‘n leë gebaar nie. Dit is nie valse of vreemde vooraf-beslote liggaamsgebare nie, maar eerder liggaamsgebare wat diep van binne-af gebore word wanneer ons bid. Dit is ons “harte” wat ons die knieë laat buig, dit is jou “hart” wat jou nek laat buig en jou kop laat sak, dit is jou “hart” wat jou oë laat toegaan en dit is jou “hart” wat jou handpalms teen mekaar laat rus. Dit is die nederige en dankbare houding wat ons harte inneem wanneer ons voor die aangesig van ons God staan.
(Die son steek kop uit. Ek maak vir my ‘n tweede koppie koffie. Ek kou nog aan Psalm 103.)
Ek lees Psalm 103. Ek sing Psalm 103. Ek buig my knieë, ek buig my nek, ek sak my kop, ek maak my oë toe, en my handpalms rus ek teen mekaar. Ek rus my skouers op my lessenaar. So sit ek vir lang minute aaneen. In stilte. In verwondering. In ontsag. Sprakeloos. Stil. Uiteindelik is ek in gebed! Psalm 103: 1:“Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.
Ek bid die woorde van ‘n ou Belgiese gebed, een wat op my lessenaar lê; ‘n briefie wat ek gereeld en graag op die Here se lessenaar neersit:
“Dankie, goeie Vader,
vir doodgewone dinge,
vir koffie en beskuit,
vir stilword en vir sing,
vir iemand se onverwagse glimlag,
’n ander se verrassende hulp,
’n woord wat ek lees en wat my lewe verlig.”
Amen.
(Ek staan op. Ek is reg en gereed vir my dag. Die koffie en beskuit gaan my dra.)




Comments