top of page

Soos 'n Welwitschia in die woestyn

21 hours ago
3 min read

"My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net 'n rukkie hier." - 1 Petrus 2:11 (Die Boodskap)

 

Toe ek die eerste keer 'n Welwitschia in die Namib gesien het, het ek gedink: wat is dit?

Dis beslis nie 'n mooi plant nie. Dit lyk meer na 'n hoop deurmekaar, geskeurde blare wat op ‘n klip lê. En dit lyk half dood. En toe hoor ek daardie plant is al meer as 800 jaar oud! Dit het dus al op daardie klip gelê toe die Kruistogte in Europa gevoer is.

 

En iets van hierdie vreemde plant help my om Petrus se metafoor in 1 Petrus 2:11 beter te verstaan. Petrus noem ons nie slagoffers nie. Hy noem ons ballinge. Besoekers. Mens sou selfs kon sê: vlugtelinge.

 

Kyk, die Namib is ’n vyandige plek. En op baie maniere is ons moderne, Westerse kultuur ook vyandig teenoor ons as Christene. Ons word maklik beskuldig daarvan dat ons onverdraagsaam, anti-wetenskap, veroordelend of verstok is. En in skole, universiteite en by die werk is dit nie meer aanvaarbaar om oor jou geloof te praat nie.

 

Maar Petrus sê: Moenie daaroor verbaas wees nie, want eintlik hoort julle nie hier nie. Hierdie lewe is slegs julle tydelike tuiste. Daarom is dit nie vreemd dat julle soms voel dat julle nie inpas nie.

 

’n Welwitschia in die Namib lyk ook uit plek uit - dit groei waar geen plant hoort nie. En die manier hoe hierdie merkwaardige plant oorleef is om nie staat te maak op reën nie, maar dit leef van die oggendmis wat van die Atlantiese Oseaan oor die woestyn inrol. Dit versamel daardie klein bietjie vog op sy groot blare. En dit is vir my die wonder: Die Welwitschia is 'n teken dat daar lewe ín die woestyn is. Daar is lewe te midde van teenstand en vervolging.

 

Daarom sê Petrus verder in vers 12: “Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is.”


So uit 1 Petrus 2 en by die Welwitschia leer ons dus drie dinge:


Eerstens: Ons hoef nie soos die woestyn te lyk om in die woestyn te kan leef nie. Ons is anders gemaak, en dit is hoe die Here dit bedoel het. Ons ongemak hier is eintlik 'n bewys daarvan dat ons besig is om ons skeppingsdoel uit te leef. En die teenoorgestelde is ook waar: as jy moeiteloos, ongeërgd en sonder teenstand deur hierdie lewe seil, moet jy jouself dalk afvra of jy werklik nog jou roeping uitleef.


Tweedens: ons is anders gemaak met ’n doel. Ons is anders gemaak om uit te staan, om uitsonderlik te wees deur die krag van die Heilige Gees. Ons is gemaak sodat mense die Here kan leer ken - sodat hulle iets van Hom in hierdie lewe kan beleef.


En laastens: Ons hoef nie self die woestyn te oorwin nie. Soos daardie plant nie wag vir die reën nie, maar elke oggend sy blare oopmaak vir die mis, so leef ons ook van 'n ander Bron. Elke dag is daar genade genoeg - genoeg om te bly staan, en genoeg om goed te bly doen. En op die ou einde sal die Here self die oorwinning behaal en sal Hy self sy werk op aarde kom voltooi.


Mag ons hierdie week dan so lewe: Nie verbitterd omdat ons nie inpas nie, maar hoopvol. Nie met vuiste wat baklei teen die kultuur nie, maar met hande wat oop is - oop om genade te ontvang én om dit uit te deel.


Want die wêreld kyk dalk nou skepties na ons deurmekaar blare op die klip. Maar eendag sal hulle sien: Hier was lewe. Hier was God.

Comments


bottom of page