top of page

Wanneer ek wegval van God af, trek Hy my nader na Hom toe

ree

Daar is waarskynlik nie baie van ons wat as gelowiges nog nóóit gevoel het dat ons by tye, of in spesifieke omstandighede, vér van die Here af is nie. Of dit is omdat ek verkeerd opgetree het en deur die gevolge van my dade of woorde of gesindhede vér van God af gaan staan het, en of die lewe se onreg of stukkendheid my wind uitgeslaan het en ek nou wonder wáár die Here dan is en waarom Hy my nie beskerm het nie – die meeste van ons kan getuig dat die gevoel dat ek nie by God kan uitkom nie, ‘n werklike ervaring is.


Die skrywers van die Psalmboek sing en dig met reëlmaat oor presies hierdie ervaring. In veral die klagpsalms (waarvan daar nogals baie is) word ‘n gevoel van Godverlatenheid verwoord, van hulpeloosheid, uitsigloosheid, wanhoop en onsekerheid. Maar dan – iewers in byna élke Psalm – is daar die erkenning of belydenis: Die Here sál my help, my uit die modder van die put optel, my red uit die maalkolk. Hy sál my voete op ‘n vaste rots laat staan, sodat ek die lig en uitkoms kan sien wat Hy vir my voorberei het.


Elke keer wanneer ek hierdie belydenis lees wat die Psalmdigters skryf, raak ‘n storie in my gedagtes wakker wat ek baie lank gelede gelees het.


Iemand skryf dat hy in sy geestesoog sien dat elke mens aan ‘n tou vasklou wat deur God se hand vasgehou word. Daar is miljoene der miljoene toue wat God só vashou. Die vreemde is dat party mense se tou korter is as ander s’n, en party se tou heelwat langer is.

Die persoon vra toe die Here wat nou eintlik hier aangaan? Hoekom hang party mense nader aan God se hand, terwyl ander vér van God af hang?

Die Here se antwoord was verrassend. Elke mens kan deur verkeerd op te tree (deur sonde) die tou self afsny, en dan van die Here af wegval. Maar elke keer vang die Here die tou, en knoop Hy dit weer vas aan daar waar dit afgesny is. En só – knoop vir knoop – raak die tou korter, en kom ons nader aan God se hand se veiligheid.


In ander gevalle slaan die storms en winde en woesthede van die lewe ons los van die tou, en dan val ons weg van God af. Maar die Here vang ons elke keer, en maak ‘n paar knope in my tou, sodat die tou nie langer glad en glyerig is nie, maar nou ‘n paar vashouplekke het. Ook só kan ek nader aan die Here kom, en selfs deur baie ontberinge baie naby aan God se hand kom.


Hoe is dit moontlik, wil ‘n mens vra? Omdat die Here ons God nóóit sy oë van my en jou af wegneem nie. Ook nie van my omstandighede of keuses nie. Die Here sluimer nie in nie, of slaap nie. (Ps.121:3-4) Deur Jesus het Hy ons aan Hom vasgebind, en daarom kan ons Here Jesus ons in Joh.10:28 herinner: “Ek gee (julle) die ewige lewe, en (julle) sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal (julle) uit my hand ruk nie.”


‘n Mens leer deur jou lewe dat die knope in jou tou nie merktekens of herinneringe is van jou mislukkings en swakhede nie, maar eerder van God se grootheid en sy genade en liefde.

Ek bid vir jou hierdie week dat jy sal ervaar hoe die Here jou al nader aan Hom vasknoop.




 
 
 

Comments


bottom of page