Die pas-afgelope Olimpiese en Para-Olimpiese Spele het ‘n mens dikwels sprakeloos gelaat oor die prestasies waartoe die menslike liggaam in staat is. Heelwat kere kon jy met verstomming kyk hoe ‘n wêreldrekord – die uiterste waartoe die beste van die bestes voorheen in staat was – verbeter word. In ons huis het ons dikwels gevra – kan enigiemand óóit vinniger, hoër, vérder, méér, béter as dít presteer?
Die paar keer wat ek items van die Para-Olimpiese Spele gekyk het, het ek dit letterlik én figuurlik vanuit ‘n ander perspektief gedoen. Ek moes onlangs redelik onverwags (vir my) oogprosedures ondergaan wat kan verhoed dat ek my sig sou kon verloor.
Ek is eerlik wanneer ek sê dat ek versigtig-angstig, of is dit dalk angstig-versigtig, hieroor was. Genadiglik was ek in die hande van ‘n uiters-bekwame, professionele en hoogs-kundige oogspesialis wat ek oor jare leer vertrou het.
Nadat al die oogsenuwees en -spiere verdoof is, en ek ‘n bietjie “tiermelk” deur die narkotiseur ingespuit is, het ek níks gesien en níks gevoel van die oogprosedures nie. Juis hiérdie ervaring bly my nou by.
Tydens die Para-Olimpiese Spele het ek dikwels gewonder oor wát presies dit is wat persone motiveer om só hard en gedissiplineerd te oefen en te lewe terwyl die beperkinge wat ernstige fisiese uitdagings aan hulle bied élke dag deel is van hulle lewe.
Hierdie atlete is hoogs-kompeterend. Hulle span ál hulle vermoëns in. Daar is afrigters, familie, vriende, ‘n skare in die stadion wat elkeen van hulle aanmoedig – omdat hulle deelneem en wedywer. Tussen die meeste deelnemers is daar ‘n gedeelde kameradie. Hulle wéét wat die ander moes oorkom en deurmaak om hiér te kan wees. Hulle kén en leef sélf op hierdie uitdagende reis.
Met ánder oë en ‘n ander ingesteldheid dink ek aan Dawid se woorde in Ps.8: “As ek u hemel aanskou, die werke van u vingers, … wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.” (Vss.4-6)
Wat is die mens wanneer hy of sy met ‘n fisiese uitdaging of belemmering leef? Die swemmer sonder arms wat deelneem, die gesiggestremde wat saam met ‘n gids hardloop, die atleet wat vasgegespe word ten einde aan die gewigstoot, skyfwerp, spiesgooi, of gewigoptel te kan deelneem? Die atlete wat in verskillende rolstoel-sportsoorte meeding?
In ons gemeente, en in ons gemeenskap, is daar talle persone wat met fisiese, intellektuele, of psigiese uitdagings leef. Daar is persone wat as gevolg van siektetoestande nié meer kan doen wat voorheen normaal deel van hul lewensaktiwiteite was nie.
Kan ek en jy vir húlle, en oor hulle sê: “Jy is met eer en heerlikheid gekroon deur dié God wat jou net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak het”?
Kan ons nie maar ánders begin kyk, ánders begin praat, ánders begin leef met mekaar nie? Ons is tog almal deel van Dawid se “wat is die mens?”
Kommentare