Christus die Koning Sondag

Volgende Sondag (22 Nov) is die laaste Sondag van Koninkrykstyd 2026. Dit word jaarliks ingerig as Christus die Koning Sondag. Daarna begin die nuwe kerkjaar met die eerste Sondag in advent in die aanloop na Kersfees. Die viering van Christus die Koning Sondag was verledejaar 100 jaar oud. Pous Pius XI het dit in 1925 by die kerkkalender gevoeg en opdrag gegee dat dit oor die vrede en die heerskappy van Christus in sy koninkryk op aarde moet gaan. Dit het na Vaticanum II in 1970 ‘n vaste plek aan die einde van koninkrykstyd gekry en so gebly.
Die rede daarvoor in 1925 was om Jesus se oorwinning vir alle tye, jaarliks te vier maar ook om die vernietigende nasleep van die eerste wêreldoorlog aan te spreek.
Gelukkig is Jesus se koningskap nie net gebonde tot spesifieke tye nie. Sy omgekeerde, dienende koningskap regeer altyd en die regering van Christus, wie se heerskappy alle menslike owerhede uitdaag en alle magte en owerhede oortref, sluimer of slaap nooit nie.
Die werklikhede van 2026 is ver verby die eerste en tweede wêreldoorloë. Die wêreld was nog nooit sonder oorloë, werkloosheid, onreg, wreedhede en hongersnood nie. Die aarde en haar hulpbronne word uitgeput. Dit is waarteen Jesus se kinders vir hulle Koning met die doringkroon moet waak en woeker en bid.
Christus bêre nie net sy koningskap vir die laaste dag nie. Hy wil deurlopend deur ons sy koningskap oor elke duimbreedte blokkie aarde proklameer. Die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 31, vra: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
‘n Gedeelte van die antwoord is dat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is tot Koning, Priester en Profeet. Jesus is ‘tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer,’ aangestel en ek en jy en alle gelowiges behoort sy heerskappy wat ‘sagmoedig en nederig van hart’ (Matteus 11) is, aan te gee in ‘n konteks wat vrot en versadig is van skelms, oorloë en magsvrate.
Mag dit vir jou maklik wees om Jesus se koningskap te laat gebeur. Mag die ou profeet jou aanspoor met sy wyse raad (Miga 6:8):
‘Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
Om die Here te dien, dit is wysheid.’
Gebed:
Here gee dat gelowiges wêreldwyd u koningskap blymoedig sal uitdra en, soos U, eerder sal wil dien as om te heers.
Amen.




Comments