"Sekere mense" doen dit anders

Die Bybel het heelwat verhale waar mense leeue-aandele in magtige wonderwerke en roerende koninkryksverhale gehad het en nie eer of lof daarvoor ontvang het nie.
So was daar in Antiochië (Handelinge 11:20) 'sekere mense' wat van Sirene en Siprus af gekom het en voor Barnabas en Paulus-hulle al die evangelie van Jesus aan heidene verkondig het toe die apostels nog gedink het hulle moet die evangelie net aan Jode verkondig. Niemand maak meer van hulle as dat Lukas hulle net 'sekere mense' noem nie maar hulle het Jesus se koninkryk gewigtig laat kom in die vroeë kerk.
Ons ken ook nie die seuntjie in Johannes 6 se naam wat die 2 vissies en 5 garsbrode voorsien het waarmee Jesus duisende mense kos gegee het nie. In die Bybel is hy net ' 'n seuntjie' maar hy was 'n belangrike koninkrykskakel in Jesus se bediening.
Niemand weet vandag wie die eer vir die aanloop en die beskikbaarheid vir die laaste avondmaal in die bovertrek moet kry waar Jesus sy liggaam en sy bloed en ware liefde aan sy dissipels verduidelik het nie. Lukas noem hulle net ' 'n man wat 'n kruik water dra' en 'die eienaar van die huis.'
Netso is daar in ons bouprojek baie name wat nêrens genoem word nie wat gemessel het, wat pik geslaan het, wat groot bedrae geld geskenk het, wat geverf het, wat materiaal gratis voorsien het, wat teëls gelê het, wat mure uitgebreek het, wat ure beplan en bestuur het en nog baie meer.
Groot baie dankie aan elke naamlose werker en bydraer tot Kenridge se bouprojek. Elkeen en alle insette is kosbaar en baie spesiaal en maak 'n groot verskil!
Op dieselfde noot is daar lidmate wat Sondae vroeg kerk toe gaan om te oefen vir lofprysing of om gasvry en vriendelik te wees of wat Maandae Sobambisana toe ry of Woensdae Alta du Toit Nasorg toe gaan of laat-aande help opruim of in die son by Maastricht parkeerplekke uitmerk of duisende Rande se omgeewerk doen waarvan niemand weet nie.
Weet net: die Here weet van alles en Hy hou daarvan dat jy so betrokke is sonder dat die linker- en die regterhand vuisslaan vir die goue medalje.
Volgens Die Boodskap vertaling van die Bybel het Jesus (Matteus 6) gesê: “Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen, moet julle eers seker maak hoekom julle dit doen. Moenie ’n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry.”
Gebed:
Here, baie dankie vir elke gewillige en bekwame arbeider in u ryk. Help ons om te verstaan dat geloof nie skattejag is nie en dat koninkrykswerk nie 'n toeskouersport is nie.
Amen




Comments