top of page

Op die Naam

4 hours ago
2 min read

"Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne." - Jesaja 43:1


'n Naam is nooit net 'n naam nie.


Wanneer ons vir 'n kindjie 'n naam gee, is dit 'n daad van liefde, hoop en identiteit. En ons dra daardie naam vir 'n leeftyd. Dit is hoe ’n mens geroep word, hoe jy geken word, hoe jy onthou word.


In ons moderne wêreld word names dikwels gekies bloot omdat dit mooi klink of huidiglik gewild is op sosiale media, maar in die Bybel het 'n naam altyd betekenis, waarde en bestemming gedra. In Hebreeus beteken byna elke naam iets. Die name was 'n storie in sigself.

•        Adam beteken mens, uit die grond geneem.

•        Dawid beteken geliefde.

•        Jesus beteken "Die Here red".

•        My naam, Johan, beteken "God is genadig".


God self gee baie aandag aan name. Dink daaraan hoe dikwels Hy name in die Bybel verander het wanneer Hy iemand se roeping verander het. Abram - verhewe vader - word Abraham, vader van 'n menigte. Sarai word Sara, moeder van nasies. Jakob, die hakskeengryper, word Israel, hy wat met God gestry het. Simon, wat wankelrig was, word Petrus, die rots.


Wanneer God jou naam verander, verander Hy jou identiteit. Hy sê: Ek sien nie net wie jy was nie, Ek sien wie jy in My gaan word.


Jou naam mag dalk deur jou ouers gekies wees, maar jou ware identiteit word deur jou hemelse Vader gegee. Jy is nie jou foute, jou verlede of wat mense van jou sê nie. Jy is wie God sê jy is: sy kind, uitverkore, vergewe, geliefd.


In 'n wêreld van miljoene mense is dit maklik om verlore te voel. Ons is 'n baie lang nommer op 'n ID, 'n naam op 'n klaslys, nog 'n profiel op die skerm. Maar vir God is jy nooit anoniem nie.


In Lukas 19 klim Saggeus in 'n boom om Jesus te sien. Hy is klein, 'n veragte tollenaar, weggesteek tussen die blare. Die skare sien hom nie eers raak nie. Maar Jesus stop, kyk op en sê: "Saggeus!" Hy roep hom by sy naam. Daardie oomblik verander alles vir hom.


God ken jou nie as 'n nommer nie. Psalm 139 sê Hy het jou in die moederskoot geweef, Hy ken jou sit en jou opstaan, Hy ken al jou weë. Die Goeie Herder in Johannes 10 roep sy skape by hulle name en lei hulle uit.


Jou naam op God se lippe is 'n bewys van intimiteit. Hy hoef nie te vra wie jy is nie. Hy weet reeds.


Komende Sondagoggend gesels verder oor jou naam, veral in die lig van Openbaring 2:17 waar die Here belowe: “Wie die wenpaal haal, sal beloon word. Ek sal vir hom gee van die hemelse brood wat weggesteek is. Ek sal ook vir hom ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n naam geskryf wat net vir hom bedoel is.”


Wat beteken hierdie vers? En wat is hierdie nuwe naam wat die Here vir jou wil gee? Kom wonder en gesels Sondag saam tydens ons erediens. En tot dan, onthou elke keer as iemand jou op jou naam roep: jy dra 'n storie van genade. En: God ken jou naam.

Comments


bottom of page