top of page

"Connectedness is the story of my life"


Iemand sê die ander dag: “Connectedness is the story of my life.”

En hierdie week gesels ons in die gemeente oor wat dit beteken om ‘ingeprop’ en dus (altyd) ‘connected’ te wees aan ‘n kragbron.

Die voor-die-hand-liggende en baie aktuele beeld van ‘n kragprop in die Youtube-video en Sondagboodskappe sinspeel op ons belewenis van hoe ‘n mens se lewe dramaties geraak word wanneer daar (nog ‘n keer!) ‘n geskeduleerde onderbreking in die munisipale kragtoevoer is. Ons almal het sulke “Give them Watts, only Watts!”-momente wanneer die donkerte op ons neersak, of ons werkritme wreed onderbreek word.

Want skielik moet ons rondskarrel vir ‘n alternatiewe kragbron, of moet ons redelik-dramatiese aanpassings maak om gedoen te kry wat gedoen moet word.

Ek sit hierdie stukkie juis en skryf terwyl die omgewing in die buurt in stilte en stikdonkerte gehul is. Dis alweer ‘loadshedding’!

Maar hierdie aan-en-af hoef jou nie nét te frustreer nie. Dit kan jou inteendeel herinner daaraan dat jou geestelike kragbron, die Here Jesus Christus, nóóit die ligte afsit, of sy kragtoevoer na jou en my onderbreek nie. Daar is immers in die hemelse kragsentrale géén konstant-dreigende moontlikheid van onverwagte brekasie of beweerde sabotasie nie.

Ons kan eerder staatmaak op die absolute betroubaarheid van ons God se krag wat deur Paulus só beskryf word: “Die krag waarmee God in ons werk, is sterker as enigiets anders. Dit is dieselfde krag waarmee God in Christus gewerk het toe Hy Hom uit die dood lewendig gemaak het.” (Ef.1:19-20)

Nou is ons almal mos ook afhanklik van die herlaaier en sy kabel waarmee ons al ons elektroniese toerusting by ‘n kragprop inprop. Om by die hemelse kragbron in te prop om herlaai te word, het ons veral twee baie waardevolle hulpmiddels – die Bybel, en gebed.

Om stelselmatig en gereeld die Bybel te lees en met aandag te luister na wie en hoe God is, en hoe Hy Homself aan ons bekendmaak, is om God se krag en leweskeppende energie te ontvang. Ek word vanuit die Bybel herlaai om elke keer méér bruikbaar te raak in God se reis met my in die lewe.

En wanneer ek bid, kanaliseer God die krag van sy Gees deur my om in hierdie wêreld helend en nuut-skeppend besig te wees. My gebede bring die Gees se krag en teenwoordigheid by mense en omstandighede en uitdagings en nood en ellende.

En waar die Gees se krag teenwoordig is, kom herstel, liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, vrygewigheid, betroubaarheid, nederigheid, en selfbeheersing. (Ef.5:22)

Vriende, daar is wonderlike geleenthede om ‘connected’ te raak. Om met krag en energie gevul te bly. Met die Gees en God se Woord. Dalk is dit ‘n voorneme waarmee jy tot dusver nog nie begin het nie. Ek wil jou nooi om dit te waag om te ‘connect’ en uit die mees-bestendige en betroubare kragbron te begin put wat óóit bestaan het. Ek kan jou verseker dat jy hieroor nooit spyt sal wees nie.

Lees, leer, bid, en leef.

12 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page