top of page

Die glans van gebreekte glas


Die prentjie vir hierdie week se ritme in ons reeks is ‘n mediese tas. Duidelik moet iets iewers gesond gedokter word wat siek, stukkend of septies is. In die regte lewe bly dit ‘n uitdaging en ‘n half. Die kuns vir gelowiges is altyd om ‘n hemelse heelheid binne-in ‘n stukkende wêreld se gebrokenheid te ontdek en te geniet.


In die boek “Life of the Beloved” (Nouwen, 1992) kry gelowiges die volgende waardevolle raad: “How can we respond to our brokenness? I’d like to suggest … befriending our brokenness.”


As struikelblokke en stukkendhede in die lewe misgekyk, ontken, geïgnoreer of uit die pad uit gedruk word soos wat die priester en die leviet in die storie van die barmhartige samaritaan gedoen het, verlam dit mense: “Yes, we have to find the courage to embrace our own brokenness.” Want: “The deep truth is that our human suffering need not be an obstacle to the joy and peace we so desire, but can become, instead the means to it.”


Jesus bly altyd die duidelikste Karakter om iets mee te illustreer. In sy leegheid van Homself en die stukkendheid waarmee die wêreld Hom verinneweer het, ontdek die heelal sy skoonste glans en sy heiligste heerlikheid. Uit Paulus as ‘n gebreekte kleipot uit, skitter die hemelse Skat glashelder na buite (2 Korinthiërs 4).


In Leonard Bernstein se “Mass” (‘n musiekstuk wat in herinnering aan John F. Kennedy geskryf is) word die uitbeelding van stukkendheid as ‘n koninkryksdeug op een van die heel treffendste maniere ooit uitgebeeld.


Teen die einde van die stuk word die priester - indrukwekkend uitgedos in sy liturgiese toga, dekorasies en helder stola - hoog opgetel en deur sy lojale lidmate op die hande gedra. Hy toring hoog bo almal uit met ‘n glaskelk in sy hande. Dan tuimel die piramiede van mense skielik onder hom en hy val dat sy kop klap. Hy val hom uit sy liturgiese klere uit en die nagmaalkelk eindig in honderde stukkies glas.


Dan stap die priester kaalvoet en stadig verby al die stukkende klere en die stukkies glas in ‘n blou denim en ‘n T-hemp. Kinderstemme begin sing dan al harder “laude, laude, laude” (loof, loof, loof) en die priester merk die glaskelk op wat flenters op die verhoog lê. Hy gaan staan en kyk dan lank na die glassplinters en sê uiteindelik: “Ek het nie geweet gebreekte glas kan so helder skyn nie.”


Gelowiges wat hulle eie en ander mense se stukkende lewensstukke raaksien, waardeer, nader gaan, optel, versorg, kosbaar ag en weer laat skyn, bou brûe soos wat Jesus gedoen het. Kom ons vat mekaar saam na die heelheid en die glans wat weerkaats uit mekaar se stukkende splinters uit. Want skerwe kan skatte wees!




9 views

Recent Posts

See All
bottom of page