
Inleiding
Hoe neem ‘n mens “onsuksesvol” deel aan die samelewing?
Sukses in God se Koninkryk is om lewe in oorvloed te ontvang en daar vanuit aan die wêreld om jou deel te neem. Johannes 10:7-18 help ons hiermee. Dit is egter 'n teks wat ons noukeurig by moet stilstaan en dieper verstaan wat Jesus bedoel as hy na Homself as die “ingang vir die skape” en die “Goeie Herder” verwys.
Die ingang vir die Skape en Die Goeie Herder
Die skaapkrale in die tyd toe Jesus geleef het, veral die krale in groot dorpe en stede, het uit hoë mure en ‘n oop ingang bestaan. In vers 7-18 gebruik Jesus dan hierdie beeldspraak deurdat Hy ook die ingang vir die skape is, sowel as die Goeie Herder. Dit beklemtoon dat dit slegs in 'n verhouding met Hom moontlik is om deel van sy kudde te wees – Sy skape ken Sy stem. Vir dié gelowiges wat in Hom glo en Hom begin gehoorsaam, gee Hy lewe in oorvloed. Die ander skape waarvan hier gepraat word, dui op die heidene wat nog in Hom sou glo.
Om dit nog beter te verstaan: 'n skaapkraal het in daardie tyd baie keer verskillende kuddes geakkommodeer, veral wanneer dit nie aan 'n huis vas gebou was nie. 'n Herder het dus baie tyd met sy skape deurgebring, sodat hulle sy stem kon leer ken. Dit het beteken dat hy hulle dus kon beheer met sy stem – net sy skape het agter hom uitgeloop as hy hulle geroep het om uit die kraal te gaan vir weiding. Dít is die intieme prentjie wat Jesus se verhouding met ons teken – Hy wil hê elke gelowige moet Sy stem só goed leer ken, dat Hy letterlik voor kan loop en ons begelei na die lewe en oorvloed wat Hy wil gee.
Jesus lê sy lewe af
Getrou aan wat Jesus reeds met die beeld van die brood wat lewe gee, gesê het, hou Sy herderskap letterlik sy dood in, want Hy lê sy lewe vir sy skape af (Sag 13:7). Snags sou die herder hulle bed in die ingang van die kraal maak om die skape te beskerm. In ‘n soortgelyke manier lê Jesus sy lewe af.
Let op hoe Hy ook praat van sy lewe weer opneem, waarmee Hy sy eie opstanding uit die dood voorspel. Baie belangrik om in die teks op te let is dat Sy dood vrywillig was. Jesus beklemtoon dit keer op keer. Hy het sy lewe afgelê omdat Hy gekies het om dit te doen en omdat Jesus dit as 'n daad van gehoorsaamheid aan God gesien het. God het Hom die taak gegee, en Hy was bereid om dit uit te voer.
Dis nie net gehoorsaamheid nie, maar ook liefde. William Barclay vergelyk die frase "die goeie herder" met die frase "die goeie dokter". As mense van die goeie dokter praat, dink hulle nie net aan die dokter se doeltreffendheid en bekwaamheid as 'n dokter nie, hulle dink ook aan die simpatie, vriendelikheid, deernis en liefde vir mense.
So is Jesus ook in die volste sin van die Woord die Goeie Herder.
Lewe in oorvloed vra ook dieselfde van ons
Die Koninkryk van God nie net ‘n opwaartse beweging is nie, maar ‘n afwaartse een ook. Dit beteken dat Jesus se lewe, kruisdood en opstanding nie net daar is sodat ons hemel toe kan gaan nie, maar dat ons ook hemel aarde toe bring. Dit vra van ons om, soos Jesus, ook ons lewe af te lê vir die koninkryk. Dit lyk natuurlik vir elkeen van ons anders, maar die beginsel bly – as jy jou lewe vir Jesus gee, dit jou alles van jou gaan vra.
Ek dink egter dít is die paradoks wat ons in die gesig staar. 'n Wonderlike paradoks, daarby gesê. Die lewe in oorvloed en ware sukses begin by die neerlê van jou lewe vir Christus en ander. Soos Jesus is sy bergrede ons herinner dat die wat eerste is, sal laaste wees en die wat laaste is, sal eerste wees.
Mag ons sukses begin deur ons fokus en ons lewe te verskuif, weg van onsself af, en deur Christus Jesus se voorbeeld as Goeie Herder, na ander toe. Veral die minstes en die wat laaste is.
Hoe bereid is jy om hierdie “sukses” na te streef?
Comments