top of page

We become what we behold

14 hours ago
3 min read














Ek is seker jy het al die belewenis gehad dat jy aanlyn vir ʼn spesifieke artikel soek en dan minute later het byna elke website met advertensie-blokkies, flikkerende prentjies van daardie artikel. Of dalk het jy begin kyk om jou kar te vervang en skielik sien jy die kar waarin jy belangstel oral in die verkeer raak. En dit is die beginsel agter die frase “You become what you behold.” Die 19de eeuse digter en kunstenaar, William Blake, was na bewering verantwoordelik vir hierdie sinnetjie om die krag van kuns en poësie op ons menswees te verduidelik. In Afrikaans sal ons kan sê jy word wat jy bekyk. 

Dit is ook die beginsel wat aan die werk is in ons vorming as mense. Die vraag is nooit óf jy gevorm word nie, maar eerder wát jou vorm. Wanneer ons nie aandag gee aan wat ons vorm nie, gaan die goed wat die meeste aandag trek ons menswees vorm – flikkerende advertensies, die sosiale media algoritme, luidrugtige slagspreuke, alles wat lekker en gemaklik is.

Op dieselfde manier het die mense waaraan ons aandag gee ʼn vormende effek op ons. Omdat ons mense sosiale wesens is, kyk ons na mekaar se optrede en ons begin doen wat die mense vir wie ons die meeste raaksien en/of agting het, doen.

Paulus skryf in sy brief aan die Tessalonissense (1:5-6, 7) “Julle weet mos hoe voorbeeldig ons optrede by julle was, en dít ter wille van julle. Julle het mense geword wat ons voorbeeld – en ook die Here s’n – volg... Hierdeur het julle op julle beurt ’n voorbeeld vir al die gelowiges in Masedonië en Agaje geword...”

Dr. Andrew Newberg, ʼn neuro-wetenskaplike, skryf in sy boek How God Changes Your Brain:

“If you contemplate God long enough, something surprising happens in the brain. Neural functioning begins to change…(we have) a nervous system that actively participates in its own neural construction, something we do not see in other animal brains.”

Dit beteken eenvoudig, soos ons die liefde van God wat in Christus na ons toe kom, bekyk en oordink, rewire dit letterlik ons brein en transformeer dit ons in meer mededeelsame en liefdevolle mense. Die teenoorgestelde is ook waar - as jou siening van God 'n woedende, oorheersende tiran in die lug is, of as jy aandag aan mense gee wat daardie prentjie verteenwoordig, verander dit ook jou brein, en Newberg argumenteer dat dit 'n soortgelyke effek as PTSD kan hê wat jou brein rewire om jou meer bang en aggressief te maak.

“You become what you behold” is daarom ʼn uitnodiging om na te dink oor waarna en na wie ons dag-in en dag-uit kyk en vir onsself af te vra of dit ons vorm in die mense wat ons graag wil wees? Dit is ʼn uitnodiging om doelbewus ons aandag op dinge en mense te plaas wat ons help om vir God raak te sien. En dit is ook ʼn bevestiging: Indien jy al die keuse gemaak het om jou aandag so doelbewus op mense, die Bybel en per implikasie op God te hou, is die Here besig om jou op diep sellulêre vlak te verander om meer en meer soos God te wees.

Mag jy doelbewus aandag gee aan die God wat jou oneindig liefhet. Mag jy doelbewus aandag gee aan die mense wat God Drie-Enig volg en hom sigbaar maak. Mag jy ʼn voorbeeld daarvan wees soos jy ook “become what you behold.”


Comments


bottom of page