top of page

Is ek omdat jy nie is nie?

11 hours ago
4 min read

Dinsdag, 6 Oktober, het ongeveer 250 000 mense die strate van Frankryk ingevaar. Wat begin het as protes deur skoolleerders oor 'n tekort aan onderwysers, oorvol klaskamers en vervalle skoolgeboue, het tot landswye betogings gelei. Gewelddadige botsings tussen betogers en die polisie het gevolg. Dieselfde dag het Donald Trump die gebeure heel anders geïnterpreteer. Volgens hom het die onrus nie werklik oor onderwys gegaan nie, maar oor immigrasie en Islam wat Frankryk sou wou oorneem. Skielik was 'n betoging oor onderwys deel van 'n veel groter gesprek oor links en regs, Christendom en Islam, immigrasie en die toekoms van die Weste.

Ek het met 'n vreemde ongemak na hierdie gebeure en die verskillende nuusberigte gekyk. Dieselfde gebeurtenis, maar soveel uiteenlopende verklarings van wat werklik aangaan. Natuurlik is nie alle weergawes ewe waar nie. Feite bly belangrik en onreg moet benoem word. Tog wonder ek of daar nie iets diepers aan die gebeur is nie. 

Vervolgens wonder ek of ons nie al hoe meer ons identiteit begin bou rondom dit wat ons nié is nie. 

Ek is regs, want ek is nie links nie. Ek is liberaal, want ek is nie konserwatief nie. Ek is 'n Christen, en daarom is ek nie 'n Moslem nie. Stadig maar seker word die afstand tussen ons en hulle die ding wat vir ons sê wie ons is.

Die Franse denker René Girard het opgemerk hoe gemeenskappe dikwels eenheid vind deur 'n gemeenskaplike vyand te identifiseer. Ons verskille met mekaar verdwyn vir 'n oomblik wanneer ons almal saam teen dieselfde persoon of groep kan staan. Die probleem lê immers by hulle. Dit is egter 'n vreemde manier om 'n identiteit te bou. As ek net weet wie ek is deur te weet wie ek nié is nie, is my identiteit uiteindelik afhanklik van iemand anders wat ek kan teenstaan. Die gevaar is dat ons naderhand nie meer mense raaksien nie, maar bloot die etikette wat ons aan hulle gegee het.

Wanneer ek weer die evangelie lees, ontdek ek iets radikaal anders. In 1 Johannes 4:19 staan: "Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het." Dink hoe buitengewoon hierdie woorde is. Ons identiteit begin nie by die ontdekking dat ons reg is en iemand anders verkeerd is nie. Dit begin nie by ons politieke oortuigings of ons vermoë om onsself van ander te onderskei nie. Dit begin by God wat ons eerste liefgehad het. Paulus skryf in Romeine 5:8 dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Nie toe ons uiteindelik die regte mense geword het of die regte opinies gehad het nie. God se liefde was eerste.

Hierin lê vir my iets besonders aan die evangelie. 'n Identiteit wat op vyandskap gebou is, sê: Ek is goed omdat jy sleg is. Die evangelie sê: Ek is geliefd, nie omdat ek altyd goed is nie, maar omdat God goed is. Dit verander alles. Ek hoef nie iemand anders verkeerd te bewys om my eie waarde te bevestig nie. Ek hoef nie iemand anders kleiner te maak om self groter te voel nie. My identiteit rus immers nie in my vermoë om reg te wees nie, maar in God se genade.

Dit beteken natuurlik nie dat Jesus teen niks standpunt ingeneem het nie. Hy het onreg, skynheiligheid en magsmisbruik gekonfronteer. Die belangrike onderskeid is egter dat Jesus teen dit staan wat mense vernietig, juis omdat Hy vir mense is. Aan die kruis sien ons dit op sy aangrypendste. Daar hang Jesus, die slagoffer van 'n wêreld waarin godsdienstige sekerheid, politieke mag en groepsdruk saamgespan het om van 'n gemeenskaplike vyand ontslae te raak. Jesus antwoord egter nie met verdere vyandskap nie. Hy bid vir vergifnis. Die opstanding verkondig dat liefde, en nie haat nie, die laaste woord het.

Dit is waarom Paulus in Efesiërs 2:14 skryf: "Christus is ons vrede." Paulus skryf dit oor Jode en nie-Jode, mense wat deur diep godsdienstige en kulturele grense van mekaar geskei was. In Christus word die muur van vyandskap afgebreek. Wat 'n buitengewone beeld van die kerk: nie 'n gemeenskap wat ontstaan omdat ons almal dieselfde vyand het nie, maar 'n gemeenskap wat ontstaan omdat ons almal deur dieselfde genade ontvang is.

Dit bring my terug na Frankryk en ons eie gesprekke oor politiek, immigrasie en geloof. Wat sou gebeur as ons as Christene ons identiteit minder uit ons teenstand en meer uit God se liefde begin leef? Ons kan oor politiek verskil, ander godsdienstige oortuigings bevraagteken en sterk teen onreg standpunt inneem. Ons hoef egter nooit iemand anders se menswaardigheid te ontken om ons eie oortuigings te verdedig nie. Dalk is dit juis wat Jesus van ons vra wanneer Hy ons in Matteus 5:44 oproep om selfs ons vyande lief te hê.

Miskien is dit die vraag waarmee ons hierdie week moet leef: Kan ek steeds die beeld van God raaksien in iemand met wie ek diep verskil? Kan ek vir iets goeds opstaan sonder om iemand anders te moet haat? In 'n wêreld wat voortdurend van ons verwag om kant te kies, herinner Christus ons dat ons diepste identiteit reeds vasstaan. Ons behoort aan Hom. Ek is nie geliefd omdat jy verkeerd is nie. Ek is geliefd omdat God goed is. Juis daarom kan ek jou liefhê, selfs wanneer ons nie saamstem nie.

Miskien is dit presies die soort getuienis wat ons verdeelde wêreld vandag nodig het: 'n kerk wat nie bloot bekendstaan vir dit waarteen ons is nie, maar veral vir die liefde van Christus wat deur ons sigbaar word.

Comments


bottom of page