Jy is, waar jy is
- bestuurder5
- May 30
- 3 min read

Wanneer jy reis kom jy agter dat sommige dinge oral dieselfde is. Dit maak nie saak of jy in die effektiefste Eerste-Wêreld land of ‘n Derde-Wêreld land waar die slaggate selfs binnenshuis mense laat uitswaai van ʼn reguit spoor af. Ek het die voorreg gehad om by goeie vriende, eintlik familie, in Kanada te gaan kuier. Kanada is bekend vir beleefde mense en dat dinge oral in die land net werk. Tog het ek die eienaardige belewenis gehad dat Kanada in vele opsigte maar net soos Suid-Afrika is.
Die een dag het ons saam met ons vriende ‘n daguitstappie gedoen waarvoor ons ‘n motor moes huur en ek moes bestuur. Toe ons by die huurmaatskappy se kantoor instap, was die motor wat ons bespreek het nie daar nie, want die vorige huurder was laat. Toe ek agter die stuur van die motor inklim wat ons toe wel kry, kom ek agter dat die padvark-spesie ook op Kanada se paaie leef – net soveel mense wat draai sonder flikkerligte, voor jou motor inry, te vinnig ry, mense met 4x4’s wat bo-op sypaadjies parkeer en so-aan.
My radar vir mense wat nie lekker is nie het aangekom wat my laat raaksien dat daar ook in Kanada winkel assistente, staatsdienswerkers en ander casual werkers is wat nie lus is om hulle werk te doen nie en daarom traag en ongeskik is. Daar is ook algemene publiek wat net oor hulself begaan is en nie goeie maniere by die huis geleer het nie. Toe ek in Kanada nuus gekyk het, het dit ook geklink asof daardie land besig is om tot niet te gaan weens misdaad, migrante en regeringskorrupsie.
Terug in Suid-Afrika het ek nagedink oor my ervaring en ek het besef dat die gemene deler in al die ervarings was ek; want ek is, waar ek is.
Die dinge wat my irriteer, frustreer, bang en kwaad maak hier in Suid-Afrika, sal my irriteer, frustreer, bang en kwaad maak in Mosambiek en in Mauritius en in Duitsland, asook Kanada en veral ook in Amerika. Want, die dinge wat my irriteer, frustreer, bang en kwaad maak sê meer oor my as oor die plek waar ek is. Dieselfde geld vir ʼn werk, ʼn skool en verhoudings, want jy is, waar jy is.
Die positiewe hiervan is ook waar, maar veral vir gelowiges.
Met Hemelvaart en Pinkster glo en bely ons dat Jesus die hele skepping vol is en deur die Heilige Gees oral is. Wanneer Jesus in Handelinge 1:8 sê “...julle sal my getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” dan is dit omdat hy reeds voor sy kruisiging (Joh. 14:3) vir hulle gesê het “sodat waar ek is julle ook kan wees.” In een van die mees aangehaalste Psalms (139:5-16) bely Dawid dat God deur sy Gees op al die plekke is waar hy is, of Dawid nou daarvan hou of nie.
Jy is, waar jy is – en dit is hoe God die wêreld nuut maak. Die goed wat jou pla, sê meer oor jou as oor die plek waar jy is. Maar dit is ook die Heilige Gees se uitnodiging vir jou om te groei en in ‘n nuwe manier van lewe in te leef – in die bekende waar jy nog altyd was, soos Jerusalem en Judea vir die dissipels; of onder jou vyande en plekke waar jy ontuis voel, soos Samaria vir die dissipels; of op plekke waar jy dink dinge beter of anders sal wees, soos die uithoeke van die aarde.
Mag jy sien dat jy is, waar jy is.
Mag jy hoor dat Jesus jou nooi om te wees waar Hy is – daar waar jy is.
Mag jy ‘n getuie wees van Jesus en die Heilige Gees, daar waar jy is.
Geseënde Pinkster!




Comments