top of page

Lees die Bybel biddend

Om die Bybel biddend te lees en daardeur verander te word, is gelowiges se antwoord op God se Woord. Nadat God met ons gepraat het deur die Skrif, praat ons met Hom terug in gebed en oorgawe. Gebed en geloof is gelowiges se reaksie op God se aksie.

 

Biddende Bybellees is nooit daarop gerig om God se wil te verander of by ons planne te laat inval nie. Dit is daarop gemik om ons harte en ons denke met sy wil te belyn. Dit is waarom ons bid: ‘laat u naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied.’

 

Jesus het in Markus 14:36 ook gebid in reaksie op die wil of die aksie van die Vader: ‘Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.’  Jesus se gebed was vol selfloosheid, oorgawe en nederigheid.

 

Om biddend te lees is om te onderskei wat die Here se wil is. Dit is om soos klei te lees wat die Pottebakker begeer en sy vorm aan te neem en sy droom waar te maak. Henri Nouwen het geskryf: ‘Discernment is about listening and responding to the place within us where our deepest desires align with God’s desires.’ Hy het ook geskryf: ‘The purpose of spiritual reading . . . is not to master knowledge or information but to let God’s Spirit master us.’

 

Geloofsonderskeiding is om God se wil in die praktiese lewe te herken en uit te leef. ’n Ander woord hiervoor is wysheid (Fil 1:9-10; Jak 1:5).

 

Die wêreld van die teksgedeelte en die wêreld van die leser moet ontmoet en daar moet ‘n versmelting, ‘n nuwe verstaan en ‘n nuwe bestaan gebeur tussen hierdie twee wêrelde. Die Duitse filosoof, Hans-Georg Gadamer het gesê daar moet ‘n ‘fusing of horizons’ plaasvind. Gelowiges moet saamsmelt met- en insmelt in God se nuwe wêreld.

 

Gebed – Here help ons om u Woord biddend te lees en so vir U en u wil in die letters van die Bybel al beter te leer ken. Amen

Comments


bottom of page