top of page

My plek

Updated: Feb 10, 2023


Rugby het my nog altyd gefassineer. Ek dink dit is in ‘n ou Leon Schuster fliek waar ‘n karakter opmerk dat daar in Suid-Afrikaanse mans nie iets soos witbloedselle is nie, maar eerder klein wit rugbyballetjies. Ek dink wel dat rugby seker een van die mees diverse sportsoorte is wat bestaan. Daar is min ander sportsoorte waar ‘n baie groot, ronderige speler saam met ‘n baie lang speler en ‘n baie kort kompakte speler en gespierde atletiese spelers en ligte, maar vlugvoetige speler in een span, ‘n gegewe is.


Ander sportsoorte se deelnemers het meestal baie ooreenstemmende liggaamsbou en vaardighede. Maar met dit gesê het byna elke spansport altyd variasie in spesifieke vaardighede.


Hierdie is nou ʼn prentjie wat jy in jou gedagtes moet hou, waarna ek binnekort sal terugkom.


In ons 7 Ritmes saam met Jesus reis behandel ons ‘n hele klomp temas en inhoud wat eintlik baie goed bekend is aan ons. Ek raai dat jy tot dusver met enige van die temas jou kop kon knik as ek sou vra of jy al hierdie gehoor het of hieroor gedink het en selfs of jy dink dat dit ‘n belangrike konsep is.


So het ons verlede week met die brood-ritme vir mekaar gesê dat die lewe saam met Jesus, 'n lewe saam met ander gelowiges is, om die letterlike en figuurlike tafel. Die komende week is die legkaart-ritme waar ons gesels oor ons elkeen se rol in die gemeenskap van gelowiges en hoe elke stukkie bydra om die groter prentjie van God se koninkryk sigbaar te maak.


Paulus was baie lief daarvoor om hierdie twee ritmes met die beeld van 'n liggaam te verduidelik. Omdat dit byna oorbekend is, kan ons veral die taal van 'n sportspan gebruik om dit nuut en vars te hoor. Dink weer aan ‘n rugbyspan en lees 1 Korintiërs 12 om hierdie beelde vars te beleef.


‘n Sportspan het baie posisies, maar hierdie baie posisies vorm almal saam net een span. So is dit ook met Christus se Span... Ja, die span bestaan nie net uit een posisie nie, maar uit Baie. As die skrumskakel sou sê: “Omdat ek nie die flank is nie, is ek nie deel van die span nie,” maak dit hom tog nie minder deel van die span nie. En as die stut sou sê: “Omdat ek maar net ’n stut is en nie ’n losskakel nie, is ek nie deel van die span nie,” maak dit hom tog geensins minder deel van die span nie.


Veronderstel ’n hele span sou uit losskakels bestaan – hoe sal jy dan skrum? Of as jou hele span net vleuels was – hoe sou jy kon lynstaan spring? Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende posisies sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die span sal hê, soos Hy dit goedvind. As alles net een posisie was, dan sou daar mos geen span kon wees nie! Ja, daar is baie posisies, maar net een span...


Van die mees suksesvolle sportspanne ooit was spanne wat hierdie beginsel verstaan het – dat elkeen 'n besonderse rol het en dit bygedra het. Die sportspanne wat in die geskiedenis sal onthou word, is dié wat as naby gemeenskap, wat saam brood breek, mekaar kon aanspoor tot liefde en goeie dade. Mag dit ook kenmerkend van ons gemeente wees!

11 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page