Psalm 23 toegepas
- bestuurder5
- Jun 18
- 2 min read

Dominee Gustav Opperman het Psalm 23 prakties toegepas onder die tema: “Ek is ‘n skaap.” Dit gaan so:
“As ek aan skape dink,
dan dink ek aan dom diere.
‘n Domkop is ‘n skaapkop …
en ek wil nie graag ‘n domme wees nie!
En ons .. ons wil nie graag ‘n trop redelose skape wees nie.
Ek voel net skaapagtig
as ek iets onnosel aangevang het.
Ek kan mos vir myself dink … en u ook.
U kan ook vir uself dink.
Nee, gee my ‘n halwe kans
en ek is eerder ‘n wolf!
Ek sal eerder skaapvleis eet
as om skaapvleis te wees.
Gee my ‘n halwe kans
en ek is eerder ‘n leeu!
Gee my ‘n halwe kans
en ek sal vir myself sorg,
ek sal my eie planne uitwerk!
Gee my ‘n halwe kans
en ek draf saam met die trop,
Koning Leeu se trop …
brullend op soek na iets om te verslind.
Die wêreld is ‘n plek vir wenners
en ‘n skaap het nog nooit iets gewen nie.
Elke hond vir homself
en die Duiwel agterhaal die een wat laaste is!
Nee …
dis belangrik dat ons dit besef:
Hy is die Herder;
ons is die skape.
Al wil ons nie sy skape wees nie,
bly ons nogtans skape.
Psalm 49 sê:
Dit is die weg van die
wat op hulleself vertrou.
Soos skape word hulle bestem vir die doderyk;
die dood is hulle herder (Ps. 49:15).
Óf die HERE is my herder
óf die dood is my herder …
maar skaap sal ek bly.
Daar is geen genade sonder hierdie besef nie.
Ook geen hoop nie.”
Psalm 23 sal sekerlik tot by die wederkoms weerklink. Tot ons en ons kinders en hulle kinders veilig by die HERE is. Psalm 23 is die hele Evangelie in ‘n neutedop. Hy is ons God en ons Herder. Ons is sy skape. Dank die HERE daarvoor! Dank die Goeie Herder daarvoor!
Gebed:
HERE, ek is ‘n verlore skaap wat in die woestyn verdwaal. Sal U vir my en elke ander afgedwaalde skaap asseblief kom haal?
Amen.




Comments