
Die opskrif vandag sal baie mense graag wil betwis. Die meeste van ons was al in omstandighede waar ons ervaar en gevoel het dat die Here my, óf iemand naby aan my, juis nié beskerm het nie. Ek het só gebid, en tog… Ons het gehoop, vertrou, maar …
Om dan na die lied te luister met die woorde “The joy of the Lord is our strength”, maak ‘n hele klomp gevoelens en gedagtes in jou binneste los. Want in moeilike omstandighede is daar nie vreugde te vind nie – ook selfs nie in God nie.
Die volk van God wat na ongeveer 184 jaar vanuit ballingskap na Jerusalem terugkeer, was allermins vrolik en vreugdevol. Hulle Beloofde Land, en God se stad is vernietig deur die Assiriërs en Babiloniërs. Die profeet Nehemia is deur die Persiese koning uit ballingskap vrygelaat om die volk in Jerusalem te help om die stad te herbou, maar dit was ‘n uiters moeisame taak.
In Neh.8 lees ons dat die muur rondom Jerusalem uiteindelik voltooi is, en dat Nehemia die volk oproep om saam te kom. Nehemia vra vir Esra, die skrifgeleerde, om die wetboek van Moses voor te lees. Die luister na die wet raak die volk só diep dat “die hele gemeente gehuil het by die aanhoor daarvan.” (8:10).
Hierop gee Nehemia aan die volk opdrag om fees te vier, en nie bedroef te wees nie, maar “hulle vreugde in die Here te vind.” (8:11)
Wat sou Nehemia hiermee kon bedoel?
Om vreugde in God te vind, begin deur te besef wie Hy is - ons Skepper, Verlosser en Onderhouer. Dit behels om Sy goedheid raak te sien, beide in die groot én alledaagse oomblikke van die lewe. Wanneer ons werklik God se karakter verstaan - Sy liefde, genade, getrouheid en versorging - reageer ons harte met dankbaarheid en blydskap. Hierdie vreugde is veel meer as ’n tydelike opwelling van emosies; dit is ’n diep, blywende geluk wat gevind word in die ken van God, die vertroue in Sy beloftes, en die elke-dag-se-stap agter Jesus Christus aan.
Die Bybel nooi ons elders in Psalm 37:4 uit om ons in God te verheug: "Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer." Dit beteken nié dat ons alles sal kry wat ons wil hê nie, maar eerder dat ons harte só gevul sal wees met God dat ons begeertes belyn sal wees met Syne.
In praktiese terme beteken dit om God eerste in ons lewe te stel. Dit beteken om tevredenheid in Sy teenwoordigheid te vind eerder as om vervulling in tydelike plesier te soek. Wanneer ons tyd neem om te reflekteer oor God se grootheid en liefde vir ons, word ons nié deur ons omstandighede geskud nie, want ons blydskap is in Iemand ewigs gegrond. Selfs in beproewings kan ons blydskap vind deur te vertrou dat God soewerein is en alles ten goede laat meewerk. (Rom.8:28)
Ten diepste is vreugde in die Here ’n lewenslange verhouding met die Here Jesus Christus. Deur sy Gees vorm Hy ons harte, trek ons nader in vertroue, gehoorsaamheid en blydskap. Wanneer ons ons in Christus verheug, ervaar ons die volheid van die lewe wat Hy belowe het en weerspieël ons Sy heerlikheid aan die wêreld rondom ons.
As ek en jy hierdie Sondag genooi word om ons vreugde in die Here te vind, kan ons die gedagte - én God - betwis, óf ons kan onsself oorgee aan dié God wat ons sonder voorwaarde liefhet.
Comments