Wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?
- bestuurder5
- Jun 5
- 2 min read

In die laaste twee jaar van my teologiese studies het ek elke tweede Sondag in my grootwordgemeente gepreek, en in ‘n gedeelte van die gemeente huisbesoek gedoen. Wanneer ek vandag deur van daardie preke lees, besef ek dat ek die arme gemeentelede met uitvoerige eksegese van die teks doodgegooi het. Hulle was té ordentlik om te sê: “Hokaai! Dis té veel om na te luister. Vertel ons eerder net die Goeie Nuus!”
Tydens die huisbesoekafsprake het ek wonderlike en toegewyde gelowiges beter leer ken. En ook met diegene te make gekry wat dwars en moeilik was, en wat vir die kerk, of die dominee, of ‘n kerkraadslid kwaad was.
Een so ‘n besoek bly my by – die oom en tannie was heel aangenaam en vriendelik, maar toe ek vra na waar hulle nou in die Bybel lees, en waarvoor hulle dankie sê in hulle gebede, het die oom verergd geantwoord: “Ek sê vir níks dankie nie, want ek het hard gewerk daarvoor. En ek gee niks vir die kerk, of vir enigiemand nie. Mý geld mors ek nie só nie! Dis myne om nou te gebruik.”
Ek was nogals onkant gevang deur die oom se kwaai en geïrriteerde antwoord. Versigtig het ek gevra: “Oom, dink Oom nie wat Oom het, het die Here vir Oom gegee nie? Oom se werk, gesondheid om te kan werk, die kundigheid om Oom se inkomste verantwoordelik te bestee, die middele om die Tannie en julle kinders te versorg?”
My opmerkings as ‘n jong man het die oom nog verder ontstel, want wie is ék om dít vir hom te kom vra in sý huis? En toe staan hy op en loop sonder om te groet kamer toe. Die tannie het namens die oom om verskoning gevra. En toe loop ek ook maar verleë daar weg.
Ek het lank daarna oor só ‘n lewensingesteldheid nagedink. En oor wat die tannie, en hulle kinders dalk alles moes verduur?
Toe ek ‘n tydjie gelede weer Paulus se eerste brief aan die gelowiges in Korinte deurlees, het die 7de vers van die 4de hoofstuk my opnuut weer getref, en aan daardie besoek laat dink: “Wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?”
Wanneer ‘n mens eerlik hieroor nadink, vul dankbaarheid jou, en nederigheid, en die erkenning van wie jy is voor die gróte God. En tel jy jou seëninge – een vir een. En kan jy ook in vryheid deel, en gee, en ander se nood verlig, sonder om iets terug te verwag.
Want jý leef op grond van God se genade.
“Wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?” Dis ‘n waardevolle vraag om elke dag te oordink. En dan te kan bely en getuig en lééf: “Wát ek besit, besit nié vir my nie!”




Comments