top of page

2 Kor.12:9 – “My genade is vir jou genoeg. Die krag van Christus is my beskutting.”

ree

Dit is nie so eenvoudig om jouself te vergewe as jy in jou lewe groot foute gemaak het wat ander skade aangedoen, of seergemaak het. En wanneer jy deur ‘n proses van selfondersoek en berou en skuldvergifnis gegaan het, beteken dit nié dat wat jy gedoen het vanselfsprekend uitgewis of vergeet word nie.

Ek lees onlangs dat iemand die opmerking maak: Die wêreld is soms méér genadig as die mense in die kerk. Mense, wat gelowiges genoem kan word, het die vreemde geneigdheid om vir baie lank te onthou indien iemand in hulle geloofsgemeenskap verkeerd opgetree het. En nes dit begin lyk asof die stories ‘n einde gekry het, en dalk nóu vergeet sou kon word, kry dit weer nuwe lewe. En dít maak baie seer.

‘n Verhaal illustreer dit goed: Een aand tydens ‘n byeenkoms van ‘n geloofsgemeenskap het ‘n jong meisie ervaar dat die Here duidelik met haar praat en haar na Hom toe trek. Sy het op die Here se roepstem gereageer en Jesus Christus as haar Verlosser aanvaar. Sy het ‘n donker verlede gehad van alkohol- en dwelmmisbruik en gepaardgaande prostitusie.

Die verandering wat sy in haar lewe en denke ervaar het, het haar met groter vrymoedigheid laat deelneem aan die aktiwiteite van die geloofsgemeenskap waar sy ingeskakel het. Sy het haarself veral uitgeleef in die bediening van die geestelike onderrig van jong kinders.

Dit was nie lank voordat ‘n jong man in die gemeente haar raakgesien het en al meer in haar begin belangstel het. Die verhouding het gegroei en daar het sprake begin ontstaan van ‘n verlowing en ‘n huwelik.

Daar het egter ‘n ongemaklikheid in die geloofsgemeenskap begin posvat. Stories het die rondte begin doen dat hierdie meisie darem nie die regte persoon en lewensmaat vir hierdie jong man is nie. Want sien, hy was die predikant van hulle gemeente se oudste seun.

Hierdie stories het momentum en lyf begin kry, en kort voor lank het ‘n groot groep lidmate daarop aangedring dat ‘n gemeentevergadering gehou behoort te word waarop hierdie netelige kwessie bespreek moet word.

Op hierdie byeenkoms het dinge by tye amper hand-uit geruk,. Die meisie se verlede is oopgevlek en daar is kwetsende dinge oor haar karakter en menswees gesê. Die meisie het skaam en vernederd gevoel en begin huil, en wou uitstap uit die byeenkoms.

Toe staan die jongman op en met rustigheid sê hy: “Die saak waaroor dit vandag handel, is nié of my verloofde se verlede haar diskwalifiseer om in die huwelik te tree nie. Waaroor élkeen van ons moet besluit, is of Jesus se bloed genóég is vir haar, én vir jou en my oortredinge en foute en misstappe. Of ons werklik glo dat sy dood en opstanding die bose en die dood oorwin het, en ons daarom mag lewe? Of ons kan bly glo dat die Gees nou in ons woon en ons nuutmaak – élke dag? En dat my verloofde óók núút gemaak is deur die Gees?”

Vriende, ek en jy kan onsself, én ander vergewe, omdat ons vergewe ís! En ons mag maar nuut en genadig lewe.

Comments


bottom of page