top of page

Gemeenskap

ree

“Alleen is ons maar net ’n druppel, maar saam is ons die oseaan.”


In die 1950’s het die sosioloog, David Riesman, die frase “the lonely crowd” bekend gemaak. Hiermee het hy verwys na mense wat, ten spyte daarvan dat hulle tussen ander mense leef en deel in hulle tradisies en gebruike, voel dat hulle eensaam, geïsoleer en sonder sinvolle vriendskappe is.


Hierdie verskynsel is vandag meer algemeen as ooit, aangesien ’n groot deel van ons bevolking sukkel om sinvolle verhoudings aan te knoop. Die meeste van ons ervaar hierdie druk - waarskynlik omdat ons vir só ’n groot deel van ons daaglikse roetine vasgenael is aan tegnologie.


In hierdie omstandighede het Christen geloofsgemeenskappe ’n reuse rol om te speel. In ons eredienste en in ons Connect-groepe is ons besig met ’n reeks oor geloofsgemeenskap en as daar nou een ding is wat ons hieruit geleer het, is dit dat geloofsgemeenskappe ’n onvervangbare bron van vitaliteit en genade in elke Christen se lewe is.


Ware geloofsgemeenskap strek dieper as net sosiale geleenthede en kerkbasaars; dit behels ’n diep geestelike konneksie wat ons alledaagse, oppervlakkige verbintenisse oortref. Dis eintlik die enigste plek waar ons werklik kan groei en genees kan word.


Maar dit kom teen ’n prys.


Om werklik deel te wees van ’n geloofsgemeenskap vereis eerlikheid, kwesbaarheid en ’n bereidheid om te deel. ’n Mens moet bereid wees om jou besittings, tyd en gemak op te offer ter wille van die gemeenskap. Die opoffering is egter die moeite werd, want dit lei tot ’n hegter, gesonder gemeenskap wat die liefde en genade van die Here uitleef.


Henry Nouwen het dit só gestel: “Christian community is the place where we keep the flame of hope alive among us and take it seriously so that it can grow and become stronger in us.”


Christen gemeenskappe skep ruimtes waar genade kan seevier oor wraak. Dit is die plek waar ons hoop beleef en dit met ander deel. Dit gee vir ons die geleentheid om vir mekaar te bid en om mekaar se laste te dra. Christen gemeenskappe beskerm ons van isolasie wat ons geestelike groei en -volwassenheid kan inhibeer.


Skakel gerus in by ons eredienste of sluit aan by ’n Connect-groep en word deel van die “not so lonely crowd”.

Comments


bottom of page